Kemp sê hulle moes verlede jaar vir sprinkane spuit, maar die swerms was nie buitengewoon groot nie. In Februarie was dit slegs twee dae nodig om te spuit. “Van begin Maart af is dit verskriklik. Dit is die ergste swerms wat ek nog beleef het en ek is al baie jare by die spuit van sprinkane betrokke.”

Dr. Gerhard Verdoorn, bedryfsbestuurder by CropLife SA, sê sprinkaanswerms kom landwyd voor, veral in die strook tussen Graaff-Reinet en Beaufort-Wes, asook ander gedeeltes van die Karoo. “Die swerms wat ons nou sien, is ordentlike swerms, die massiewe swerms kom nog.”

Hy sê die voorraad spuitmiddels is voldoende en dat boere swerms so spoedig as moontlik by die departement van landbou se kantoor in De Aar moet aanmeld deur 053 631 3122 of 053 631 3261 te bel.