Dit is die Universiteit Stellenbosch se eeuviering en die feestema was 100%. Dit is dus dalk min van ’n verrassing dat daar ook in die groot Bloekomhoek-tent, op die Wilgenhof-manskoshuis se grasperk, eweneens ’n paar insiggewende stukkies statistiek genoem is tydens die daaglikse gespreksreeks wat Landbouweekblad daar aangebied het.

Die Eeu van Landbou-gesprekke het bedryfskundiges en akademici byeengebring om oor die groot kwessies te gesels, maar dit was dikwels die “kleiner” feite wat oud en jonk in die gehoor laat proes of wenkbroue lig het.

Dit het feite ingesluit, soos die dalende slagouderdom van braaihoenders, die persentasie van Suid-Afrika se tafeldruiwe wat uitgevoer word, of die toename in die hoeveelheid melk wat koeie per dag lewer, vergeleke met hul eweknieë ’n dekade gelede.