’n Boer van KwaZulu-Natal het ’n verdagte op sy plaas doodgeskiet, ná hy en sy gesien deur drie verdagtes aangeval is.

Mnr. Marius Clark en sy gesin is Saterdag om 20:00 op die plaas Porthill naby Donnybrook in KwaZulu-Natal aangeval.

Volgens mnr. Ian Cameron, hoof van gemeenskapsveiligheid by Afriforum, het die gewapende aanvallers die draad van die werf geknip en sodoende toegang tot die plaaserf verkry. Twee aanvallers het messe gehad en een 'n vuurwapen.

LEES OOK: Reeks oor plaasveiligheid - die plaashek

Struweling

Die verdagtes het Clark vasgebind en ’n selfoon en rekenaar gesteel. Clark het egter ontsnap en ’n geveg het tussen hom en een van die aanvallers uitgebreek.

“Hy het die geweer gekry en die aanvaller buite die huis doodgeskiet,” sê Cameron. Die ander verdagtes het te voet gevlug na ’n informele nedersetting naby die huis.

Clark en sy vrou, Lizelle, hul drie kinders en ’n maatjie van een van die seuns wat ook op die plaas was, het geen beserings opgedoen nie.

Veiligheid

Cameron sê een van die verdagtes wat die selfoon gesteel het, het ’n foto van homself op WhatsApp geplaas.

Me. Sandy La Marque, uitvoerende hoof van Kwanalu, sê die organisasie is voortdurend betrokke by veiligheidsprosesse in landelike gebiede. “Ons monitor elke plaasaanval of moord wat plaasvind en dit word deeglik ondersoek, regdeur tot by die vonnis. Dié geval is kommerwekkend en ons is reeds betrokke met die ondersoek, saam met die polisie.”

LEES OOK: Plaasveiligheid: Wanneer mag jy skiet?

Het jy ’n nuuswenk, kommentaar, ’n foto of video wat jy aan ons wil stuur? Gebruik Whatsapp om met ons te gesels by 063 720 3632.