"Ons het 'n see van armoede in ons omgewing en ons kan nie op eilande van welvaart leef te midde van dié armoede nie."

Mnr. John Bredin, voorsitter van die nuutgestigde Harry Gwala Agri, verduidelik met dié woorde die doel van 'n organisasie wat deur kommersiële boere in die distrik Harry Gwala gestig is om plaaslike bestaansboere én opkomende boere te help ontwikkel.

Harry Gwala Agri is 'n organisasie sonder winsbejag (NPO) wat deels deur boere van dié distrik befonds sal word. Die amptelike bekendstelling van die organisasie vind Woensdag (8 Maart) by die Creighton-sportklub plaas.

Hoekom?

Volgens Bredin is die enorme uitdaging van werkloosheid en gebrek aan voedselsekerheid vir talle in die streek die beweegrede vir die projek.

"Ons beplan om projekte te loods vir kommersiële boere maar ook om mense te help om kos op die tafel te sit. Deur bestaansboere te help om genoeg van hulle eie kos te produseer kan ons help om voedselsekuriteit te verbeter."

Bredin sê hoewel geld in die landbou belê word, wil dit voorkom asof die belegging nie 'n groot genoeg impak maak nie.

"Grond is nie noodwendig die probleem nie. Suid-Afrika het miljoene hektare wat benut kan word. Die probleem is eerder om die vaardighede te kry om winsgewind en produktief op dié grond te boer. Ons glo die sleutel tot sukses lê hier."

Meeste van die boereverenigings in dié streek het reeds hul ondersteuning aan die organisasie toegesê.

"Ons het reeds verskeie projekte wat deur boere self befonds word," sê Bredin.

Planne

Dié projekte sluit in 'n groep van 60 families wat gehelp is om 'n bestaansboerdery op die been te kry en nou selfversorgend is, sowel as 'n vroulike swart boer van die Swartberg-omgewing wat met mentorskap en die oordrag van vaardighede gehelp word.

Breding voel dit is belangrik om maatstawwe te vestig vir hoe sukses met dié projekte sal lyk.

"Ons moet versigtig wees om nie net sukses in kommersiële terme te meet nie. Ons kan dit doen met kommersiële projekte maar baie van wat ons wil doen is bloot om 'n verandering in mense se lewens te bring. Sukses moet dus deur die oë van die begunstigde gesien word."