Die waarnemende hoof van landbou in Kwazulu-Natal, mnr. Jerry Mfusi, moet dringend meer beskerming kry, nadat ’n veiligheidswag by sy huis geskiet is, vra die IFP. Kommer word die afgelope ruk uit verskeie oorde uitgespreek oor die vlaag moorde in die provinsie, wat met beweerde mededinging vir politieke posisies verbind word.

Mnr. Nhlanhla Msimango, lid van die Kwazulu-Natalse wetgewer en provinsiale landbouwoordvoerder van die IVP, sê Mfusi verdien beskerming want hy is in beheer van ’n departement wat ’n begroting van R2,2 miljard het.

Volgens hom is daar baie mense wat verwag om tenders te kry, veral rakende die verspreiding van saailinge, chemikalieë en ander landbouverwante projekte.

Ernstig
“In hierdie stadium kan ons nie spekuleer wie agter die aanval sit nie, maar ons hoop die polisie sal hulle ondersoek doen en die verdagtes in hegtenis neem. “Siende dat baie moorde in Kwazulu-Natal voorkom, moet dié soort voorvalle ernstig opgeneem word.

“As doodsdreigemente en ’n skietery plaasvind, laat dit baie onbeantwoorde vrae en ontwrig mense se lewens,” sê Msimango. Die veiligheidswag, wie se naam nie bekendgemaak is nie, is in die hoësorgeenheid van ’n plaaslike hospitaal opgeneem.

Hy het ook benadruk dat beskerming noodsaaklik is vir diegene wat as ’n hindernis gesien word in hul poging om die staatskas te beskerm, deur die wat tot geweld sal oorgaan om dit te beroof.