Goeie somerreën het veral gedurende Februarie vanjaar in KwaZulu-Natal (KZN) uitgesak die droogte in die noorde van die land gebreek, maar ’n lang en onsekere winter lê nou voor vir veeboere in dié provinsie. Volgens mnr. PJ Hassard, beesboer van Hluhluwe in die noorde van KZN, sny hy tans vir die eerste keer in drie jaar hooi op sy plaas.

“Die skade aan weidings oor die afgelope drie jaar se droogte gaan nie in een seisoen ongedaan gemaak word nie. Daar is verseker meer weiding as verlede jaar hierdie tyd, maar dit gaan steeds ’n lang winter wees want die weidings is nog nie terug na normaal nie.

“Meeste boere het ook oor die afgelope paar seisoene hul kuddes aansienlik verklein en baie kontant spandeer om hulle diere te voer. Kontantvloei-bestuur gaan dus ’n uitdaging wees oor die volgende paar maande, want kuddes moet weer opgebou word. Die sloerende gevolge van die droogte is dus tans die kommer,” verduidelik Hassard.

Mnr. Greg Carter-Brown, ’n melkboer van Creighton in die KZN Middelland, is positief oor die winter wat voorlê. “Ons damme is vol nadat ons uitstekende reën aan die einde van Maart en die begin van April gehad het. Dit is ’n seën om die winter met rustigheid in te gaan.”

Hassard skat dat kuddes in sy omgewing tot 25% kleiner is as wat die normale drakrag van die veld is. Die Hluhluwe-dam, wat die dorp en boere van water voorsien, was in die middel van April slegs 40% vol.