Dis net-net, maar ná maande van groot onsekerheid, het La Niña uiteindelik amptelik gesig gewys.

Die toestande wat op die stand van dié weerverskynsel dui, was nou vir lank genoeg sodanig dat die meteoroloë kan verklaar ’n La Niña, hoewel ’n bra swak en dalk kortstondige een, is met ons.

Dít beteken boere kan versigtig optimisties begin raak dat die komende drie maande vir Suid-Afrika net dalk ’n natter somer mag bring.

Jongste vooruitskouing

Mnr. Cobus Olivier, voorspelling-wetenskaplike van die SA Weerdiens, sê dié jongste vooruitskouing kom met ’n laer onsekerheidsgraad as ’n maand gelede s’n.

Die gebied in die Stille Oseaan waar temperature op die stand van La Niña of El Niño dui, het sedert die afsterwe van verlede somer se super-El Niño in Mei, geleidelik afgekoel. Dit het vir lank in die neutrale gebied gehang, maar was nou uiteindelik vir lank genoeg koel genoeg vir die internasionale klimaat-agentskappe om ’n amptelike La Niña te verklaar.

Dit lyk of die kanse al hoe groter word vir oorheersing deur La Niña in Desember, Januarie en Februarie – die tydperk waarin die tradisionele midsomerdroogte gewoonlik val, sê Olivier.

Kan tot einde Februarie duur

Prof. Francois Engelbrecht, klimatoloog van die Wetenskaplike en Nywerheidsnavorsingsraad (WNNR), beaam die jongste vooruitskouing dat die huidige La Niña, hoewel in die swak kategorie, tot einde Februarie kan duur, en eers dan dalk weer na die neutrale toestand kan begin verswak. Die meeste voorspellings dui op ’n goeie waarskynlikheid van normale tot bo-normale, eerder as onder-normale neerslae, oor ons somerreënvalgebied, sê hy.

Hy wys nogtans daarop dat daar geen “volkome sekerheid” oor hierdie voorspelling is nie. “Dit het al dikwels in die laaste 40 jaar of so gebeur dat veral die swakker La Niña’s nie normale nie, maar onder-normale reën bring."

Groot vraag oor Desember tot Februarie

“Die groot vraag is wat oor Desember tot Februarie gaan gebeur. In hierdie stadium is die verwagting beslis positief, maar dit is nie gewaarborg dat dit goed gaan reën nie,” sê Engelbrecht.

“Trouens, die droogste jaar wat nog in die Vrystaat en Noordwes aangeteken is, was juis in ’n swak La Niña-jaar. Ons kan dus nie met sekerheid sê dat die somer vanjaar natter gaan wees as verlede jaar nie.

“Die feit bly dat die hele somerreënvalstreek steeds in ’n meerdere mate onder ’n voortslepende droogte bly ly,” sê Engelbrecht.

* Geskryf deur MARLEEN SMITH en GERRIT BEZUIDENHOUT