“Dit is tipies van Suider-Afrika se klimaat,” sê mnr. Johan van den Berg, onafhanklike landbouweerkundige. Hy sê dié tipe weer kom veral voor met die wisseling van seisoene.

In dié tydperk het reën plek-plek oor die suidoostelike, oostelike en noordelike dele van Suid-Afrika voorgekom. Die huidige baie warm en droë toestande, wat die gevolg is van ’n Atlantiese hoogdrukstelsel wat oor die land indruk, veroorsaak egter dat die grond vinnig uitdroog waar dit wel gereën het.

Somergraanaanplantings het al in dele van KwaZulu-Natal en Mpumalanga begin, maar op plekke moes eers opgehou word omdat toestande te droog geword het. Die optimale planttydperk op die Hoëveld van Mpumalanga, KwaZulu-Natal en die Oos-Vrystaat is van middel Oktober tot middel November.

“Die opbrengspotensiaal van sojabone wat ná die middel van November aangeplant word, word baie vinnig nadelig beïnvloed omdat sojabone op dagliglengte reageer,” sê Van den Berg. “Hoewel mielies tot einde November aangeplant kan word – met korter groeiseisoenkultivars tot ná die eerste week van Desember - verhoog die risiko vir ryp- en koueskade later in die seisoen vir hierdie laat aanplantings.”

Reënval

Voorspellings vir reënval tot einde Oktober lyk ongunstig vir die somerreënstreek, hoewel enkele ligte buie moontlik is oor die Oos-Vrystaat, KwaZulu-Natal en Mpumalanga van ongeveer 21 Oktober af. “Baie min of geen reën word ook voorspel vir die Suidwes-Kaap, maar enkele ligte neerslae is moontlik oor die Suid-Kaap en Tuinroete in die volgende week tot 10 dae.” 

Van den Berg sê in dié tydperk gaan maksimum temperature baie hoog bly met dagtemperature bo 35 °C oor die sentrale, westelike en noordelike binneland. Die suidelike en suidoostelike dele van die land gaan steeds matige tot koel temperature ervaar. “Vir die eerste keer die seisoen gaan die minimum of nagtemperature konstant bo 10 °C wees oor die sentrale tot suidelike binneland en bo 15 °C in die warmer westelike en noordelike dele. Dit is baie gunstig vir die groei en ontwikkeling van gewasse wat tot dusver minimum temperature onder 10 °C ervaar het, wat groei vertraag het.” 

La Niña

Intussen is die La Niña-verskynsel steeds besig om te versterk met die Suidelike Ossilasie-indeks (SOI) wat redelik sterk in die positiewe fase inbeweeg het. “Die weerpatrone se koppeling met die La Niña-see-oppervlaktemperature is dus besig om plaas te vind.”

Van den Berg sê tydens La Niña-gebeurtenisse begin die reënseisoen dikwels laat en kom die meeste reën eers in die mid- tot laatsomer voor. “Daar kan egter redelik goeie neerslae in November voorkom oor die oostelike dele van die land gedurende La Niña-seisoene, en later in die seisoen oor die sentrale tot westelike dele.”

Die huidige La Niña-verskynsel het volgens Van den Berg nog nie deurgewerk wat globale reënvalpatrone betref nie. Daarom kan die effek daarvan in Suid-Afrika ook laat wees:

•          Redelik groot dele van Suidoos-Australië - in streke soos Nieu-Suid-Wallis, Victoria en Suid-Australië - het sedert die tweede helfte van September goeie neerslae gekry, wat tipies van ’n La Niña-verskynsel is. Die grootste deel van Queensland het nog min reën gehad wat egter nie tipies van La Niña-verwagtinge is nie.

•          In Argentinië is droogtetoestande tipies van ’n La Niña-verskynsel. Die Argentynse koringoes het oor groot gebiede verdroog. Die ergste droogte in 70 jaar word veral in die noordelike dele ervaar. Meer as 600 000 beeste het reeds weens die droogte gevrek. Daar is ook ’n sprinkaanplaag in sekere gebiede.

•          ’n Intense droogte is tipies van die effek van La Niña in Kalifornië en aangrensende state in Amerika.

•          La Niña het gewoonlik droogtetoestande in Oos-Afrika tot gevolg. Redelik goeie reënval het tot dusver hier voorgekom, en nie ondergemiddelde reënval soos verwag is nie. Dit lyk egter of dit nou droër gaan word.