Katoenkoek is ook ’n belangrike bron van proteïene vir veevoer, sê mnr. Joseph Kempen van Loskop Katoen in Marble Hall.

“Ons het nog so tien dae se katoen oor om te pluis en dan moet ons toemaak.”

Me. Tanya Aucamp, ’n woordvoerder van Katoen SA, sê katoenlint word ongelukkig nie as ’n noodsaaklike produk beskou nie en daarom is katoenboere nie vrygestel van die bepalings van die nasionale staat van inperking nie.

Kempen sê die bedryf het hard probeer om die regering anders te oortuig omdat katoen in baie veiligheidsdrag en toerusting gebruik word. “Sommige gesigmaskers word van katoen gemaak, maar die regering wou nie besgee nie.”

Kempen sê die katoen is gelukkig nie nou in ’n fase waarin baie arbeid of bestuur nodig is nie. “Die katoen groei nou, dis al.”

Hy hoop egter die inperking is oor ’n maand of twee verby wanneer die eerste katoen geoes moet word.

“Die pluismeul se personeel is tans tot op die been gesny. Net die mense wat fisiek die pluiswerk doen mag in die fabriek ingaan. Hulle volg die strengste moontlike maatreëls om die oordrag van die koronavirus te probeer voorkom.”

Suid-Afrika se katoenbedryf het die afgelope ses jaar teen ’n ongekende tempo gegroei nadat dit in 2009 byna heeltemal platgeval het.

“Ons het oor die laaste 15 maande meer katoen gepluis by ons pluismeul in Marble Hall as wat ek in totaal van 2007 tot 2017 gepluis het. Ek is seker die syfers lyk baie dieselfde by ander pluismeulens in die land,” sê Kempen.