Dié jaarlikse toekenningsgeleentheid van die SA Suiwelkampioenskap, die grootste suiwelkompetisie in Afrika, is vanjaar vir die eerste keer virtueel aangebied weens die Covid-19-pandemie. Die beoordeling van die onderskeie kategorieë in die kompetisie is reeds op 27 Februarie in Kaapstad afgehandel voordat die eerste koronavirus-geval in Suid-Afrika aangeteken is.

Mnr. Johan Ehlers, uitvoerende hoof van Agri-Expo, wat die SA Suiwelkampioenskap al sedert 1834 aanbied (voorheen as die Kaap die Goeie Hoop Landbougenootskap), sê hulle moes ná die beoordeling nuut dink oor hoe vanjaar se toekenningsgeleentheid aangebied kan word. Belanghebbendes kon op die ou einde die aankondiging van die wenners op sosiale media volg.

“Die afstel van die jaarlikse glansgeleentheid plaas nie ’n demper op die feit dat ’n rekordgetal van 975 produkte van 74 vervaardigers vanjaar in meer as 100 verskillende klasse meegeding het nie. Die toename in inskrywings en die feit dat 11 nuwe vervaardigers toegetree het, is goeie nuus vir die suiwelbedryf. Dié bedryf word deur verskeie struikelblokke, soos die voortslepende droogte en nou ook die Covid-19-pandemie, belemmer,” sê Ehlers.

Slegs 23 uit die 975 suiwelprodukte is vanjaar met die Qualité-gehaltemerk vereer, terwyl 107 produkte as SA Kampioen aangewys is.

“Dit is die derde keer in vyf jaar dat ons die Produk van die Jaar-eerbewys vir een van ons kase verower het,” sê mnr. Marek Warzywoda, hoofbestuurder by Lactalis SA. “Ek is so trots op die span van Lactalis SA. Dit is ’n duidelike teken van hoe hoog die gehalte van ons produkte is en hoe toegewyd en ywerig ons spanne is.”

Mnr. Alan Fourie, die hoofbeoordelaar en ’n suiwelkenner, het gesê “om ’n uitsonderlike cheddar te vervaardig wat vir langer as tien maande verouder kan word, is op sigself ’n uitdaging”.

“Die Président Extra Mature Cheddar is vol afgerond met ’n soet, neutagtige profiel wat in ’n mens se mond smelt. Dit is voorwaar ’n besonderse produk en dit verdien om as produk van die jaar aangewys te word.”

Die 23 Qualité-wenners is Fair Cape Dairies (met sewe produkte), Lactalis SA (drie produkte), Darling Romery (twee produkte), Fairfield Dairy (twee produkte), Polar Ice Cream Company (twee produkte) en een produk elk van Clover SA, Foxenburg Estate, Langbaken Karoo Cheese, Lausanne Dairies, Limpopo Dairies, Marcel’s Frozen Yoghurt en Woodlands Dairy.