Makube waarsku egter dat terwyl daar nie verdere verlagings van die repokoers vanjaar verwag word nie, verhogings wel volgende jaar ter sprake kan wees.

Hy sê hoewel die verlaging van die koers nie ’n onmiddellike effek op die landbousektor het nie, sal vanjaar se lae repokoers diegene in die sektor baat wie se gesamentlike skuld al die R170 miljard-kerf verbygesteek het.

Die lae koers het ook die landbou se sake­vertroue-indeks ’n hupstoot gegee. Vertroue in die landbou is nou volgens die indeks op 50 punte in die derde kwartaal van 2020, terwyl dit 39 punte in die tweede kwartaal was. Die kapitaalbeleggings-subindeks toon vertroue het verbeter van 38 punte in die tweede kwartaal na 44 punte in die derde kwartaal.

“Dít is te danke aan vanjaar se groot landbou-uitset, asook beter pryse wat winste ’n hupstoot gegee het,” sê Makube. “Ons sien dit duidelik in die vordering wat met die verkoop van landboumasjinerie vanaf Januarie tot Augustus gemaak is. Die verkoop van stropers het met 18% toegeneem teenoor die ooreenstemmende periode verlede jaar. Minder trekkers is egter gedurende hierdie periode verkoop.”

Makube sê die gunstige omgewing wat die lae koers skep, is nou veral welkom aangesien boere ’n nuwe plantseisoen begin en dit hulle geleentheid gee om hul boerderye uit te brei en masjinerie en toerusting waar nodig is te vervang. “Dit sal lei tot nog ’n jaar met groot oeste, wat sal help om in die komende jaar ’n demper op voedselinflasie te plaas.”