Dit sal nie net kontantvloei verbeter nie, maar ook terugbetalings verminder en trekkerverkope verbeter.

Só sê mnr. Paul Makube, senior landbou-ekonoom by FNB, nadat die Reserwebank die rentekoers gister (19 Maart) verlaag het te midde van die vrees dat Suid-Afrika se ekonomie deur die Covid-19-pandemie verwoes kan word. Die bank voorspel ’n resessie vir die volle 2020, met ekonomiese groei van -0,2%.

Makube sê dié verlaging van die rentekoers kom op ’n tyd dat sentiment in die landbousektor verbeter. “Weersomstandighede het gunstiger geword, wat daartoe gelei het dat meer gewasse aangeplant is en ’n oes van 14,6 miljoen ton vir mielies verwag word. Daar word verwag dat die totale somergraanoes vir die 2019-’20 produksieseisoen op ’n jaargrondslag met 26% tot 16,8 miljoen ton kan toeneem.”

Hy sê die grond en damvlakke het baat gevind by goeie reënval en dat verbeterde vooruitsigte vir gewasse en vee vanjaar ’n demper op voedselinflasie sal plaas. “Hoewel Suid-Afrika se jaarlikse rentekoers in Februarie op 4,6% hoër is as die middelpunt vir die Reserwebank se teiken, moet die algemene verbruikersprysindeks steeds tussen 3% en 6% bly.”

Makube sê die onlangse verswakking in die waarde van die rand, wat ’n wisselkoers van R17,40 teenoor die dollar bereik het, sal verbeterde winste vir uitvoerkommoditeite soos sitrus, wyn en mielies beteken, asook ’n verhoging van pryse vir graan en oliesaad.

Slegte gevolge

Hoewel die laer rentekoers goed vir die plaaslike landboubedryf is, hou die uitbreking van Covid-19 vele slegte gevolge in vir onder meer die toerismebedryf, verskaffingskettings en globale voedselstelsels. Só sê dr. Requier Wait, hoof van ekonomie en handel by Agri SA.

Hy sê Suid-Afrika se ekonomie het reeds vele knelpunte, soos die staatskuld wat reeds hoog is en aanhou klim, beperkings op elektrisiteitvoorraad en grootskaalse werkloosheid. “Covid-19 kan ekonomiese verlangsaming vererger, terwyl die land se ekonomiese vooruitsigte reeds broos is.”

Wait sê die regering se pogings om die verspreiding van Covid-19 te beperk, moet verwelkom word. “Hoewel die regering se veiligheidsmaatreëls op kort en mediumtermyn ekonomiese implikasies sal hê, sou die koste om nie vinnig op te tree nie op lang termyn veel groter gevolge hê.”

Hy sê die impak van Covid-19 sal Suid-Afrikaanse landboukommoditeite op verskillende maniere affekteer. “Daar kan minder vraag wees na kommoditeite wat op uitvoer staatmaak. Logistieke beperkings en die beskikbaarheid van verskeping kan ook ’n impak op uitvoerkommoditeite hê.”

Hy meen die beskikbaarheid van chemikalieë en ander insette kan ook geraak word, maar voeg by dat plaaslike verskaffers reeds besig is om oplossings daarvoor te soek.

Wait sê aangesien Suid-Afrika ’n netto uitvoerder van landbouprodukte is, sal plaaslike voedselsekerheid sterk bly. “Suid-Afrikaners behoort kalm te bly en saam te werk om deur dié pandemie te kom. Verbruikers moet nie paniekinkopies doen nie aangesien daar danksy ons boere nog lank genoeg kos sal wees.”

Mnr. Omri van Zyl, uitvoerende direkteur van Agri SA, is lid van ’n spesiale taakspan wat deur die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling saamgestel is om bedryfskwessies wat deur Covid-19 veroorsaak word, aan te pak.