Weens die onlangse droogte het boere vir ’n lang tyd nie kapitaaltoerusting vervang nie, maar dit lyk asof dié situasie nou verander, sê mnr. Abrie Rautenbach, Absa se hoof van landboubesigheid.

“As ons na trekker- en stroperverkope kyk, is daar definitief produsente wat die goeie jaar benut het om van daardie toerusting te vervang. As die transaksies op skuld gefinansier word, maak laer rentekoerse geld los om op ander plekke te gebruik of om ’n buffer op te bou.”

Rautenbach sê die konsensusverwagting by Absa was dat die repokoers met 50 basispunte verlaag sou word pleks van die 25 basispunte wat mnr. Lesetja Kganyago, president van die Reserwebank, op 23 Julie aangekondig het. Dit is die vyfde keer vanjaar dat die bank sy uitleenkoers verlaag het.

“Die feit dat die koers met net 25 basispunte verlaag is, skep na ons mening ’n geleentheid dat dit binnekort met ’n verdere 25 basispunte verlaag kan word, dalk self so gou soos met die volgende vergadering van die bank se monetêre beleidskomitee,” sê Rautenbach.

Die repokoers is nou 3,5% en banke se prima rentekoers is 7%, wat die laagste vlak sedert 1973 is. Volgens Kganyago verwag die bank nou dat die land se ekonomie vanjaar met -7.3% gaan inkrimp teenoor sy vorige voorspelling van -7%.  Die verwagting vir die inflasiekoers is onveranderd op 3,4% gelaat. Die Reserwebank se doelwit is om die inflasiekoers só te bestuur dat dit tussen 3% en 6% bly. Die skerp verlaging in die repokoers vanjaar is die bank se manier om terug te veg teen die harde slag wat Covid-19 die ekonomie en verbruikers se beursies toegedien het. 

Volgens prof. Raymond Parsons van die Noordwes-Universiteit se sakeskool is monetêre beleid geen towerstaffie wat die ekonomie kan regsien nie, maar die Reserwebank kan eerder meer buigsaam wees as om te min te doen met die repokoers. Hy het ook verwag dat die koers met 50 basispunte verlaag sou word en sê sake-ondernemings en huishoudings wat in finansiële nood verkeer, kan al die hulp gebruik wat na hul kant toe kom, net om te oorleef.

Rautenbach sê die laer repokoers sal weerspieël word in banke se uitleenkoerse. Boere wat strategiese planne uitvoer, moet die gunstiger koerse gebruik. “Dit kan die moeite werd wees om nou projekte aan te pak, soos om alternatiewe energie op te wek, as dit bydra tot die produktiewe waarde van die boerdery en as dit sakesin maak.”