Met die ekonomie wat weens die Covid-19-pandemie tot stilstand gekom het, is dit die laagste vlak wat dié koers, waarteen die Reserwebank geld aan banke leen, in 50 jaar bereik het.

Banke koppel hul prima uitleenkoers aan die repokoers. Die prima uitleenkoers is van 22 Mei af 7,25%.

Die Reserwebank sal waarskynlik in die tweede helfte van die jaar die repokoers nog twee keer met 25 basispunte verlaag, sê mnr. Paul Makube, senior landbou-ekonoom by FNB Landbou. “ ’n Kombinasie van gunstige vooruitsigte vir die ruolieprys, laer plaaslike inflasie wat waarskynlik verder kan verlaag, en die huidige ekonomiese inkrimping het die Reserwebank die geleentheid gebied om die repokoers te verlaag.”

Skuld

Met ’n beraamde skuldlas van R170 miljard, wat elke dag styg, sal die landbousektor veral in dié tyd voordeel uit die verlaging trek. “Covid-19 ontwrig die normale gang van sake, wat weer ’n impak het op boere se inkomste en hul vermoë om skuld te delg. Hou in gedagte dat dié sektor nog moet herstel van die ernstige droogte wat groot dele van die Oos- en Noord-Kaap steeds in sy greep het.”

Die verkope van landboumasjinerie en die vervanging van ou toerusting is die afgelope jaar reeds onder druk weens die droogte se uitwerking en laer oeste wat finansiële druk veroorsaak, sê Makube, en verwys na die afname van trekkerverkope (4% laer) en stroperverkope (13% laer) in April vanjaar teenoor ’n jaar gelede.

Die vooruitsig vir die oes is goed. Die totale somergraanoes vir die 2019-’20-seisoen sal teenoor 2018-’19 met ’n verwagte 31% tot 17,52 miljoen ton styg met die land se grootste stapelvoedsel, mielies, wat 15,22 miljoen ton (35% hoër op ’n jaargrondslag) kan behaal. “Dit, tesame met ’n gunstige rentekoers-omgewing sal produsente kans gee om die nodige vervanging van verskeie werktuie en masjinerie te doen.”

Die gunstige vooruitsig wat die groot oes vir kosvoorraad inhou, sal ook help om voedselinflasie onder bedwang te hou. Dit sal verbruikers, wat inkomsteverlies weens die pandemie ly, ’n broodnodige blaaskans gee, sê Makube.

Die Reserwebank sê in sy verklaring oor die rentekoersverlaging hy verwag dat ekonomie vanjaar met 7% sal inkrimp, maar dat die plaaslike ekonomie volgende jaar sal herstel van die knou.