Sommige damme loop oor, terwyl die vlakke van die twee belangrikste damme in die gebied, die Tzaneendam en die Ebenezerdam, bestendig styg.

Mnr. Jacque Kruger, uitvoerende hoof van die Letaba-watergebruikersvereniging, sê boere by Tzaneen en Letsitele moes van verlede April af met sowat 30% van hul normale kwotas oor die weg kom. Sedert Desember kon hulle aanvullend water uit die stelsel pomp om hul eie damme vol te kry. Trouens, Kruger sê as hy na die volumes van die afvloei kyk, lyk dit vir hom of talle boere hul damme volgemaak het en nie meer water aan die stelsel onttrek nie.

Die meeste boere het nou so 80% van hul opgaarvermoë gevul. Aanduidings is dat baie reën oor die volgende weke kan val. Hoewel almal hul asem ophou oor die skade wat die sikloon Eloise kan bring, sê boere die water sal welkom wees. “Die gevoel onder boere is dat mens ’n pad of selfs ’n damwal weer kan regmaak, maar as ’n ding eers van droogte gevrek het, kan g’n mens hom weer lewend maak nie,” sê Kruger.

Teen druktyd het die Suid-Afrikaanse weerdiens gewaarsku dat die sikloon swaar neerslae in dele van Limpopo, Mpumalanga en KwaZulu-Natal kan veroorsaak. Dit is egter baie moeilik om die pad van ’n sikloon te voorspel. “Die sikloon kan enige oomblik ’n ander rigting inslaan.”

Kruger sê daarom het boere het nie opgehou om ekstra water te pomp terwyl hulle kan nie. “Een boer het reeds R300 000 aan diesel bestee om sy damme vol te pomp.”

Vir boere in die besproeiingsarea is dit die moeite werd, want met vol damme kan die meeste boere die komende winter deursien.

Kruger glo daar is selfs ’n kans dat die Tzaneen- en Ebenezerdam vanjaar voor die winter vol kan loop. Teen verlede jaar hierdie tyd was die Tzaneendam net 5,7% vol. Die meeste reën het eers ná Januarie begin val. Die Tzaneendam se vlak staan tans op 22% en die Ebenezerdam op 26% en daar is steeds ’n bestendige invloei. Ander damme in die stelsel loop oor. Die Dap Naudé-dam staan op 105%, die Magoebaskloofdam op 100,8% en die Hans Merenskydam op 102%.

Damvlakke in die res van die provinsie lyk betreklik goed met die meeste groot damme wat oorloop. Kommer heers egter oor die Doorndraaidam in die Waterberg waarvan die vlak ten spyte van goeie reën steeds daal. Die dam is tans 0,7% vol.

Die Glen-Alpine-dam naby Tolwe is ook nog baie leeg op net 12,9%.