Dit is om te verseker dat die geld nie in die spervuur van die bank se huidige likiditeitsprobleme beland nie.

Mnr. Mdu Shabane, direkteur-generaal van die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, het in die vergadering van die parlement se portefeuljekomitee vir landbou gesê: “Die Land Bank het self die geld na die departement terugverwys weens die kwessies wat hy (die bank) ondervind. Ons sal steeds saam met die bank werk ten opsigte van hoe ons boere gaan ondersteun, maar die bank wou nie die geld in gevaar stel gegewe die likiditeitsprobleme wat hom in die gesig staar nie.”

Die R100 miljoen om boere te help wat in nood verkeer en lenings by die bank het, is deel van die R1,3 miljard-rampfonds wat die departement beskikbaar gemaak het om die impak van die Covid-19-pandemie teen te werk ter wille van voedselsekerheid.

Aansoeke om hulp

Die Land Bank het aan die parlement se staande komitee oor bewilligings gesê dat hy gereed is om boere te help met die geld wat die departement bewillig het.

Mnr. Ayanda Kanana, uitvoerende hoof van Land Bank, het gesê dat die bank saam met die departement werk om die nodige ondersteuning te bied. Die bank sal egter net aansoeke van bestaande kliënte aanvaar. Weens sy likiditeitsprobleme gaan hy nie nuwe aansoeke aanvat nie. Kanana het die versekering gegee dat wanneer die bank se likiditeit weer gunstig is, sal hy die landbousektor weer volstoom diens.

Mnr. Noko Masipa, DA-LP, het gesê die bank se probleme is ’n kombinasie van die voortslepende droogte, dieresiektes en lenings aan swart boere wat nie gediens word nie. “Al hierdie probleme raak die likiditeit van die bank. Die regering sal baie moet doen om opkomende boere te beskerm. Die enigste manier om die oorlewing van opkomende boere in hierdie omstandighede te verseker, is die verskaffing van ’n robuuste finasieringsmodel wat die winsgewendheidsrisiko beperk sodat hulle hul skuld kan betaal.”

Die rampfonds kom van die vorige departement van landelike ontwikkeling en grondhervorming se program vir administrasie, grondhervorming en landelike ontwikkeling wat hertoegewys is. Altesaam R400 miljoen is bewillig vir produksie-ondersteuning van boere wat op grond boer wat bekom is deur die regering se strategie vir die verkryging van grond (Plas), en R775 miljoen om kleinskaalse en kommunale boere te ondersteun. Altesaam R20 miljoen is bewillig vir die aankoop van higiëneprodukte soos maskers, R1 miljoen daarvan vir kommunikasie en R4,1 miljoen vir sagteware om aansoeke te verwerk.