Sowat nege maande nadat die Land Bank R400 miljoen se konsessielenings aan droogtegeteisterde boere beskikbaar gestel het, het relatief min boere nog daarvoor aansoek gedoen.

Mnr. Bennie van Rooy, finansiële hoof van die bank, het boere wat nog belangstel, aangemoedig om dit so gou moontlik te doen.

'n Onlangse gerug wou dit gehad het dat die geld net tot einde Desember beskikbaar was, maar Van Rooy sê dit is tot einde Maart beskikbaar, en dié datum kan ook verleng word deur 'n addendum tot die bank se ooreenkoms met die Nywerheidsontwikkelingskoöperasie (NOK), wat die geld aan die bank leen.

Helfte is toegestaan

Volgens Van Rooy is rondom die helfte van die totale bedrag reeds in die vorm van lenings toegestaan. “Ons het 'n redelike toevloei van aansoeke, en dit word vinnig verwerk, sodat lenings gereeld toegestaan word. Tientalle boere is al op dié manier gehelp.”

In Oktober verlede jaar het mnr. TP Nchocho, uitvoerende hoof van die bank, gesê 53 aansoeke van net meer as R65 miljoen was teen 31 Augustus goedgekeur en die bank was toe besig met die verwerking van nog 52 aansoeke van sowat R194 miljoen.

Van Rooy sê die bank wil graag die volle R400 miljoen van die NOK-lening op dié wyse vir droogtehulplenings aan kliënte benut, en dit is nie net bestaande kliënte wat kan aansoek doen nie, maar ook nuwes. Die bank hef 'n rentekoers van prima minus 3% vir die lenings, wat inderwaarheid 'n laer koers is as die een wat die bank aan die NOK moet betaal.

Normale aansoekproses

Wanneer boere aansoek doen, word die normale kredietaansoekproses gevolg, soos vir enige ander Land Bank-lening.

Mnr. Johan Pienaar, adjunk- uitvoerende direkteur van Agri SA, sê wat kon bydra dat die skema nie ten volle opgeneem is nie, is dat handelsbanke na aanleiding van gesprekke met Agri SA probeer het om bevredigende finansiële reëlings met hul kliënte te tref. “Ek glo landboubesighede het in die algemeen ook dié benadering gevolg.

“Bystand sal uiteraard nie verleen word indien dit nie herstelvermoë sal verseker nie.”

Vir navrae oor die skema, besoek 'n Land Bank-tak of skryf na droughtrelief@landbank.co.za.

* Geskryf deur Carien Kruger en Marleen Smith