’n Bedrag van R29,15 miljoen was op Maandag 13 Julie betaalbaar, maar die bank het op Donderdag 9 Julie in ’n verklaring op die JSE-nuusdiens gesê hy kan dit nie betaal nie. Dit volg op soortgelyke verklarings in April en Junie vanjaar.

Dié verklaring verhoog die risiko van wanbetaling, ondanks die nasionale tesourie se reddingsboei van R3 miljard aan die Land Bank wat in 24 Junie se aanvullende begroting aangekondig is.

“Ons is uiters bekommerd oor die Land Bank se likiditeitskrisis. Dit is ’n akute sistemiese risiko vir die landbousektor se finansiering en voedselsekerheid in Suid-Afrika,” sê mnr. Omri van Zyl, uitvoerende direkteur van Agri SA.

Hy wys daarop dat die Land Bank 29% van Suid-Afrika se landbouskuld finansier en ’n totale leningsboek van sowat R45 miljard het.

Domino's

Ontleders was optimisties dat die kapitaalinspuiting van R3 miljard deur die tesourie die bank kan help om die rente op sy korttermynskuld te delg. Intussen moes die regering egter ook ’n ander instelling help wat weens die Land Bank se skuld in die moeilikheid beland het.

Die Reserwebank het op 3 Julie ’n waarborg van R3,4 miljard uitgereik aan sy filiaal die Korporasie vir Openbare Deposito’s (CPD). Die CPD het verskeie skuldinstrumente van die Land Bank gekoop met geld wat hy van die regering en ander staatsinstellings ontvang het. Die CDP het in die afgelope boekjaar egter ’n verlies van R2,8 miljard gely en moes voorsiening maak vir skuld wat hy nie van die Land Bank sou kon verhaal nie. Dit het die redding genoodsaak.

In sy jongste Sens-verklaring sê die Land Bank hy ondervind steeds probleme met likiditeit en dat hy nie in staat is om die rente op die genoteerde effekte te delg wat tussen 9 Julie en 31 Julie 2020 betaalbaar is nie. Hy sal mettertyd verdere aankondigings doen oor rente en kapitaalbetalings wat ná 31 Julie betaalbaar is.

Die Land Bank het in April in gebreke gebly om rente op lenings ter waarde van R50 miljard te delg, en in Junie kon hy nie 'n rentebetaling op skuld van R120 miljard maak nie. Dit het gedreig om ’n uitkringeffek te hê wat betref wanbetalings op sy ander effekte. Aangesien R5,7 miljard van sy skuld deur die staat gewaarborg is, kan wanbetaling beteken dat die regering daardie bedrag moes opdok.

“Dis nou tyd om drastiese besluite te neem. Ons sien nog nie ’n plan nie en die risiko vir die landbou is baie groot,” sê Van Zyl.