Die Land Bank se aankoop van Capital Harvest se debiteureboek strook met sy strategie om meer gedifferensieerde produkte na die mark te bring en vir die landbougemeenskap groter toegang te bied, het mnr. Willie Jacobs, hoof van korporatiewe bankdienste by die instelling, gesê.

Die twee instellings het by navraag in 'n gesamentlike verklaring gesê hulle het 'n ooreenkoms gesluit in terme waarvan die Land Bank Capital Harvest, 'n Stellenbosse landboufinansieringsmaatskappy, se debiteureboek deur 'n sekuritiseringstruktuur sal finansier.

'n Bron ná aan die proses het aan Landbouweekblad verduidelik sekuritisering is 'n proses waarvolgens 'n klas van bates met 'n ander klas van bates verpak word, sodat dit óf aan 'n belegger bemark kan word óf aangebied kan word as sekuriteit om finansiering te bekom.

In dié geval beteken dit Capital Harvest verkoop sy debiteure aan die Land Bank, wat in 'n beter posisie is om finansiering teen daardie bates te verkry. So word kapasiteit vir Capital Harvest geskep om verdere finansiering aan kliënte te kan verskaf.

Die twee instellings sê die transaksie sal na verwagting teen die einde van Maart afgehandel word. Mnre. Faans Roos en Johan du Toit, mede- uitvoerende hoofde van Capital Harvest, sê die ooreenkoms spruit uit die onderneming se sterk groei die afgelope vyf jaar.

“Toe Capital Harvest in 2010 'n onafhanklike landboufinansierder geword het, het ons 'n debiteureboek van R380 miljoen bestuur. Vandag bestuur Capital Harvest, regstreeks en onregstreeks, R1 400 miljoen se finansiering.”

Die Land Bank was volgens hulle nog altyd een van Capital Harvest se hooffinansieringsvennote. Die sekuriteringstransaksie was 'n natuurlike verlenging van die onderneming om die groei van die maatskappy te ondersteun, deurdat verdere toekomstige finansiering ontsluit word.

Jacobs sê die ooreenkoms strook met die Land Bank se strategie vir inklusiewe groei. “Die sekuritiseringstruktuur sal aan Capital Harvest se kliënte 'n diverse mengsel van finansiële produkte bied.”

Die Mededingingskommissie het vroeër vandeesmaand besluit om by die Mededigingstribunaal aan te beveel dat die transaksie tussen die twee maatskappye goedgekeur word, omdat dit onwaarskynlik is dat dit mededinging in die relevante markte sal voorkom of verminder.