Die res moet steeds bakhand staan nadat ’n algemene terugbetalingsooreenkoms nie binne die spertyd van 31 Maart bereik kon word nie. 

Die Land Bank moes teen vandag ingevolge ’n ooreenkoms wat in die hof bereik is, R400 miljoen aan Standard & Chartered terugbetaal. In ’n verklaring wat uitgereik is ná noodsamesprekings met al sy krediteure, sê die Land Bank hy beoog om ’n nuwe voorstel vir die herstrukturering van sy skuld te doen wat “in ooreenstemming is met die doelwitte wat deur die aandeelhouer gestel is.”

Die aandeelhouer van dié staatsbeheerde instelling is die nasionale tesourie, wat in die jongste begroting R7 miljard oor drie jaar as reddingsboei vir die Land Bank beskikbaar gestel het. Daar is egter nie besonderhede gegee oor presies hoeveel van hierdie geld vir die bestaande skuld aangewend sal word nie.

Luidens die verklaring erken die bank dat hy nie ’n vroeëre belofte aan sy krediteure kan nakom om teen vandag, 31 Maart, ’n skuldooreenkoms te bereik oor die meer as R40 miljard wat hy hulle skuld nie. As rede voer die bank aan dat die aandeelhouer (of te wel die tesourie) nuwe doelwitte gestel het oor die wyse waarop die reddingsboei aangewend word. “Die verwagting is dat die kapitaalinspuiting nie net ’n ooreenkoms oor die bestaande skuldlas moontlik moet maak nie, maar ontwikkelings- en transformasiedoelwitte ook moet vaslê.”

Dié voorwaarde sal waarskynlik nie die ander skuldeisers, soos Futuregrowth Batebestuurder (die Old Mutual-beheerde beleggingspesialis), Nedbank en Absa, gerusstel nie. Hulle het verkies om nie die hof te nader oor die uitstaande skuld nie en eerder ’n onderhandelde ooreenkoms probeer bereik.

Vroeër het me. Olga Constantatos, hoof van krediet by Futuregrowth Batebestuur, gesê hulle is baie bekommerd oor die toekoms van die Land Bank en dat die tyd nou verstreke raak om die Land Bank van ondergang te red. Daar is reeds die afgelope jaar samesprekings met die Land Bank en die tesourie gehou om ’n werkbare skuldplan saam te stel, maar tot dusver is daar nog nie een gekry wat ook aan die streng regulasies en kriteria voldoen waaraan uitleners soos pensioenfondse onderworpe is nie.

“Elke opeenvolgende voorstel het geneig om die uitleners se posisie verder te verswak en dit het die volhoubaarheid van die Land Bank verder verminder.”

Kredietgradering

Om sake verder te vertroebel het die kredietgradeerder Moody’s Investor Service alle kredietgradering van die Land Bank opgeskort. Luidens ’n verklaring op die JSE se nuusdiens, Sens, is dit gedoen ná ’n versoek van die Land Bank omdat die “voorgestelde oplossing vir die skuldlas” nie sal vereis dat die Land Bank ’n kredietgradering benodig nie, is ’n besluit geneem om die bestaande kredietgraderingsdiens wat deur Moody’s bedryf word, op te skort.

Hoewel Moody’s sê die gradering is weens “sakeredes” onttrek en dat dit nie verband hou met die Land Bank se kredietwaardigheid of die gehalte van sy bestuur nie, is dié stap steeds ’n bron van kommer vir skuldeisers, wat tipies pensioenfondse is, sê prof. Johan Willemse, onafhanklike landbou-ekonoom. “Sulke fondse het voorskrifte wat bepaal jy mag nie geld belê in ongegradeerde skuld nie. Dit beteken bestaande skuld word nou in ongegradeerde effekte gehou, wat hulle in ’n baie ongemaklike posisie plaas. Daarby gaan die Land Bank in die toekoms al hoe moeiliker kan leen sonder gradering vir die skuld.”

Tot 28% van die primêre landbousektor se skuld word deur die Land Bank gehou. Hy het via tussengangers soos Unigro, Obaro en GWK krediet aan boere beskikbaar gestel.

Willemse sê as die Land Bank nie ooreenkomste met sy skuldeisers kan bereik nie en hy vorentoe nóg minder geld op die ope mark kan leen, sal dit beteken dat die beskikbare landboukrediet verder inkrimp. “Boere ondervind reeds dat dit baie taai is om nuwe lenings by handelsbanke te bekom.”

Die Land Bank se skuldkrisis is in April 2020 ontketen toe hy aangedui het dat hy nie lenings wat hy op die geld- en kapitaalmark bekom het, op die ooreengekome vervaldatums kan terugbetaal nie. Hierna het die bank se posisie drasties verswak. Kenners was dit eens dat die reddingsboei van R7 miljard oor drie jaar, wat in die nasionale begroting opsygesit is vir die oorlewing van die bank, nie genoeg sou wees om ontwikkelingslandbou te finansier én sy verpligtinge op die kommersiële mark na te kom nie.