Die bank het kort voor dié aankondiging bekend gemaak dat hy nie, soos vroeër beoog, sy program vir oplossings vir sy aanspreeklikhede teen einde November in werking sal kan stel nie weens die ingewikkeldheid van die transaksie en die groot getal finansiële krediteure met wie hy gesprek moet voer.

Die bank sê in ’n verklaring op die JSE se Sens-nuusdiens hy mik nou om die program teen einde Maart 2021 ten volle in werking te stel.

Die bank verwys ook daarna dat hy, ná die staatsreddingsboei van R3 miljard vroeër vanjaar, verwag om in Februarie 2021 tydens die nasionale begrotingsrede te hoor hoeveel die staat verder aan hom sal toeken. 

Bloot ’n simptoom

TLU SA sê die afgradering is bloot ’n simptoom van Suid-Afrika se talryke probleme.

Die afgradering hou volgens die organisasie drastiese gevolge in, aangesien verskeie landbou-ondernemings en die produksiekrediet van 27% van boere deur die bank gefinansier word.

“Dit hou beslis ernstige gevolge vir elke Suid-Afrikaner in aangesien ’n gebrek aan finansiering ’n regstreekse negatiewe invloed op voedselverskaffing het,” sê mnr. Henry Geldenhuys, voorsitter van TLU SA.“Dit is nou tyd vir Suid-Afrikaners om wakker te skrik oor die oorsaak van die land se ineenstorting op feitlik elke terrein. Keer op keer word staatsinstellings reddingsboeie aangebied (met geld wat nie uit die staatskas beskikbaar is nie) en word daar geherkapitaliseer. Telkens slaag dit nie. Dit is dwaas om aan te hou om die simptome te probeer behandel, terwyl die oorsaak nie opgelos word nie.

“Die ANC-regering wat die land wanbestuur deur kaderontplooiing, korrupsie en gierigheid is die grootste vyand van Suid-Afrika. Terwyl die ANC aan bewind bly, sal die reeds benarde situasie bloot versleg.“Ons is dan besig om misdaad en wanbestuur te finansier deur die belastings wat ons betaal,” sê Geldenhuys.