Volgens wetgewing verval die rampverklaring wat mnr. Zweli Mkhize, Minister van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake, op 13 Maart vanjaar ingestel het, ná drie maande.

Hierdie rampverklaring het dit moontlik gemaak dat meer geld vir die krisis aangewend kon word.

Mkhize het aangedui dat die gesamentlike koördineringskomitee vir die droogte gedurende Mei opnames gedoen het. Daarvolgens is die ergste droogte in die Wes-Kaap, Oos-Kaap, Noord-Kaap en ander dele van die land gebreek en kan die herstelfase begin.

Dit is om daardie rede dat hy besluit het om toe te laat dat die verklaring van ’n nasionale rampdroogte verval. Altesame R433 miljoen se droogtehulp is aangewend.

Herstelfase

Tydens die herstelfase sal veral gekonsentreer word op hoe droogtesituasies vorentoe hanteer gaan word. Dit vorm deel van hoe stelsels aangepas moet word rakende klimaatsverandering. Dit sluit onder meer in die verbetering van die identifisering, koördinering en bestuur van herstelprojekte wat daarop gemik is om kwesbaarheid ten opsigte droogte te verminder.

Om dit te vermag, sal die koördineringskomitee sy fokus breër strek as net die voortdurende monitering van herstelprojekte en meer gefokuste projekte insluit.

Van die projekte wat beoog word, is:

·         Die uitbreiding van die watervoorsieningsvlakke sodat daar in toekomstige vraag na water voldoen kan word sonder om beperkings in te stel;

·         Waterbewaring en die vraag na water sal binne gemeenskappe bestuur word om verbruik per capita te laat verlaag tot internasionale norme;

·         Plaaspraktyke sal aangepas word om toegespits te wees op die versagting van die uitwerking van die droogte; en

·          Navorsing sal gedoen word om werkbare oplossings te vind om sterker teen die droogte te staan, soos die teel van saad wat hitte- en droogtebestand is.

Verder sal beleide rakende droogte op alle regeringsvlakke hersien en versterk word. Die agterstand by grootmaatwaterprojekte sal aangepak word. Die bestaande herstelplanne van plaaslike regerings, soos die Back-to-Basics-program, gemeenskapsprogramme en die ondersteuningsagent vir munisipale infrastruktuur (MISA), sal munisipaliteite se vermoë versterk om infrastruktuur te ontwikkel en te onderhou om waterverliese te voorkom.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.