Luidens ’n verklaring wat die Demokratiese Alliansie op 26 Maart uitgereik het, is dit egter onwaarskynlik dat belanghebbendes in die landbousektor dié permit sal gebruik aangesien dit eintlik vir openbare instellings ontwerp is.

Die DA het me. Thoko Didiza, minister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, skriftelik versoek om met die samewerking van die polisie, die weermag en wetstoepassers ’n permit in ’n nuwe formaat te ontwerp wat meer geskik vir die landbou se waardeketting is en probleme by padblokkades sal vermy.

’n Verdere probleem wat die DA aan Didiza uitgewys het, is die feit dat die landbousektor se produksieproses van so ’n aard is dat meer as 50 mense op ’n slag op een plek moet werk. Veral die vrugtebedryf en ander bedrywe, wat tans met hul oesseisoen besig is, benodig dringend duidelikheid oor watter beperkinge daar op hul werkers se bewegings geplaas gaan word.

“Duidelikheid hieroor sal ook help om verwarring ui die weg te ruim oor die oes en verwerking van primêre landboukommoditeite, soos die wyn- en blombedryf, wat nog nie as noodsaaklike voedselproduksie aangedui word nie.”

Die DA het gevra dat Didiza dringend riglyne verskaf om te verseker dat die landbousektor die regte prosedures volg.

Die DA meen hoewel die bekamping van Covid-19 nou noodsaaklik is, is dit net so noodsaaklik dat bedrywighede in die landbousektor nie tot stilstand kom nie. “Daarom is dit belangrik dat min. Didiza en haar kollegas enige kwessie aanpak wat die land se voedselsekerheid bedreig.”