Hy het gesê die jongste toevoeging tot Suid-Afrikaanse uitvoerprodukte sal hopelik medisinale dagga wees. Veral in die Noord-Kaap word al hoe meer gedoen om dit kommersieel te verbou.

Burgess het gesê vir Suid-Afrika om suksesvol te wees moet almal kan saamwerk en in dieselfde rigting beweeg met welvaartskepping as die hoofdoelwit. “Een van die belangrikste belanghebbendes in hierdie verband is die staat. Dit is waarlik bemoedigend om ’n nuwe bereidheid by die regering te sien om die private sektor as vennoot te betrek om probleme opgelos te kry.” Voorbeelde hiervan is hoe die stryd teen bek-en-klouseer aangepak word en die onderneming om die uitreiking van waterlisensies te bespoedig.

“Ons by Landbouweekblad is optimisties dat ons dalk op die randjie van ’n nuwe goue era van samewerking staan, want soos die Bybel ons waarsku, kan ’n huishouding wat verdeeld is nie staande bly nie.”

chris burgess
Chris Burgess tydens 'n paneelbespreking by die konferensie. Foto: Liza Bohlmann

Behou mededingendheid

Mnr. Mmboneni Muofhe, adjunk-direkteur-generaal van die department van wetenskap en innovasie, het in sy openingsrede gesê Suid-Afrika se landbou-uitvoer het in 2018 ’n hoogtepunt van $10,6 miljard (R159 miljard) bereik, maar dit het verlede jaar gedaal weens die droogte en die gevolge van bek-en-klouseer.

Hy het gesê koringinvoer kan in die 2019-’20-bemarkingsjaar met 28% tot 1,8 miljoen ton toeneeem. Dit word toegeskryf aan die kleiner plaaslike oes weens ongunstige weersomstandighede in die Wes-Kaap.

Mmboneni Muofhe
Mnr. Mmboneni Muofhe, adjunk-direkteur-generaal van die department van wetenskap en innovasie. Foto: Liza Bohlmann

Hy het gesê koring is ’n belangrike stapelvoedsel in Afrika en die hele vasteland is ’n netto invoerder. Dit kos Suid-Afrika ongeveer R5,5 miljard om 1,89 miljoen ton koring in te voer en die uitvloei van kapitaal is nadelig vir die land en werkskepping. Sy departement belê sowat R5 miljoen per jaar in ’n platform om nuwe kultivars te ontwikkel en tegnologie te ontwikkel tot voordeel van plaaslike produsente.

“Die landbou kan meer werksgeleenthede skep vir elke rand wat bestee word as enige ander sektor. Daar word geraam dat die landbou die potensiaal het om ’n miljoen werksgeleenthede teen 2030 te skep. Die mededingendheid van grootskaalse kommersiële landbou moet derhalwe behou word, terwyl kleinskaalse boere terselfdertyd die geleentheid kry om te ontwikkel tot kommersiële boere.”

Hy het gesê vennootskappe met die bedryf is van die grootste belang. “Daar is baie geleenthede as tegnologie en innovasie benut word. As departement sien ons uit na vennootskappe met die bedryf sodat ons seker kan maak ons soek saam oplossings vir die probleme waarmee julle daagliks te doen kry.”

‘Goue driehoek’

Me. Willemien van Asselt van die departement van landbou in Nederland het haar land se sukses as een van die grootste uitvoerders van landbouprodukte deels toegeskryf aan die noue samewerking tussen die regering, die landbousakesektor en die wetenskap – die drie staan in Nederland bekend as die “goue driehoek”. Dié suksesvolle stelsel is oor 100 jaar ontwikkel.

Willemien van Asselt
Me. Willemien van Asselt van die departement van landbou in Nederland. Foto: Liza Bohlmann

Sy het gesê Nederland is nie een van die grootste uitvoerders van voedsel ter wêreld omdat die land so baie self produseer nie. Baie landbouprodukte word van oral ter wêreld ingevoer, in Nederland verwerk en dan weer uitgevoer. Volgens syfers wat sy voorgehou het, produseer Nederland €3,5 miljard (R56 miljard) se voedsel self, sowat €7,6 miljard (R122 miljard) se landbouprodukte word uit 128 lande ingevoer en op die ou end word kos ter waarde van €11,3 miljard (R182 miljard) na 152 lande uitgevoer. Die belangrikste uitvoerprodukte is blomme, vleis, suiwelprodukte, eiers, groente en vrugte.

Van Asselt het gesê in Nederland word groot probleme met klimaatsverandering ondervind. Om die skaars hulpbronne optimaal te benut, is daar nou ’n nuwe benadering bekend as sirkulêre landbou. Dit behels die voorkoming van vermorsing op alle tereine, die benutting van afvalstowwe van een voorsieningsketting as die grondstof vir ’n volgende en die benutting van afvalvoedsel as dierevoer. Dit verg die slim integrasie tussen plant- en diere-voorsieningskettings.

Met dié nuwe benadering word die klem ook meer gelê op die welstand van boere deur seker te maak dat hulle winsgewend kan produseer. Vermorsing van kos word soveel moontlik beperk en verder word baie klem op die verbetering van produksiemetodes gelê.