Luidens ’n verklaring van Statistieke Suid-Afrika (StatsSA) het die ekonomie in die derde kwartaal met 2,2% gegroei, wat die land se tweede resessie sedert 1994 tot ’n einde gebring het. Die toename in ekonomiese aktiwiteit in die derde kwartaal het gevolg op twee kwartale waartydens negatiewe groei aangeteken is, wat algemeen aanvaar word as ’n aanduider van ’n resessie. In die eerste kwartaal het ekonomiese groei met 1,6% ingekrimp, terwyl dit in die tweede kwartaal met 0,4% gedaal het.

Mnr. Wandile Sihlobo, landbou-ekonoom by die landbousakekamer Agbiz, sê vanweë ’n toename in produksie van tuinbou- en dierprodukte kon Suid-Afrika se landboubedryf daarin slaag om te herstel ná die resessie.

Binne die tuinboubedryf het die sitrusbedryf die beste gevaar met rekorduitvoer van 2 miljoen ton tot dusver vanjaar. Volgens hom weerspieël die verhoogde produksie van diereprodukte die herstel wat in die veebedryf ervaar word ná die droogte van 2015 en 2016.

Verrassende herstel

Volgens StatsSA se syfers het die landboubedryf in die jongste kwartaal met 6,5% gegroei. Sihlobo sê hoewel beter groei verwag is, is die mate waartoe die landbou-ekonomie herstel het steeds ’n verrassing.

Hy sê die groei kan egter van korte duur kan wees aangesien die toestande in die landbou steeds taai bly as gevolg van ongunstigde weerstoestande. Dele van Suid-Afrika ervaar onder meer ’n gebrek aan vog in die grond en volgens voorspellings kan die El Niño-verskynsel in Januarie volgende jaar sy opwagting maak.

Sihlobo sê die huidige someroes vorder goed. Boere beoog om die aanplanting van somergraan en oliesaad met 5% tot 4,03 miljoen hektaar te verhoog. Dit het weer ’n verhoging in die verkope van trekkers aangehelp – altesame 5 818 trekkers is gedurende die eerste 10 maande van 2018 verkoop.

Swak optimisme oor die landboubedryf, die laagste sedert 2009, asook weerstoestande sal volgens Sihlobo beduidende faktore wees wat groei in die Suid-Afrikaanse landbou-ekonomie betref.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.