Dr. Theo de Jager, direksievoorsitter van Saai, sê dit verteenwoordig ’n vars bries uit owerheidsgeledere en hy hoop dit sal wyer as net by die tesourie byval vind. Hy sê ’n groot deel van die dokument konsentreer op die landbou- en dienstebedrywe aangesien hierdie sektore in die beste posisie is om arbeidsintensiewe groei te bewerkstellig.

“Verbeterde toegang tot finansiering, bekostigbare landbouversekering, landboutegniese adviesdienste vir ontwikkelende boere en toegang tot markte is van die voorkeursake wat genoem is om ’n vriendeliker omgewing, waarin die landbou kan gedy, te skep.”

Hy sê Saai is veral opgewonde oor mnr. Tito Mboweni, minister van finansies, se voorstelle oor ’n moontlike gesubsidieerde versekeringskema vir landbou omdat dit toegang tot finansiering sal bevorder, risikobestuur sal verbreed en ’n unieke geleentheid sal skep om produksiedata te oes. Dit is ook treffend dat die verslag die belangrike rol van eiendomsreg en die besit van bates onderskryf.

Die groot kwessie wat nie deur die dokument in ag geneem word nie, is die demper wat vereistes vir swart ekonomiese bemagtiging en grootskaalse bedrog op beleggingsaptyt plaas. In dié verband staan die besprekingsdokument in skrille kontras met die dreigemente van mnr. Thulas Nxesi, minister van arbeid, om meer drakoniese rassekwotas aan maatskappye op te dwing.

Saai glo as die voorstelle in die besprekingsdokument realiseer, sal dit die mededingendheid van die Suid-Afrikaanse landbou met rasse skrede laat styg.

Mnr. Chris Hattingh, projekbestuurder by die VMS, sê die dokument bevat voorstelle wat op gesonde verstand gegrond is en gemik is op die ekonomiese groei wat Suid-Afrika desperaat benodig. “Ons het nou al te lank voortgestrompel op ’n pad met trae groei, hoë belasting, oorweldigende rompslomp en herverdeling van welvaart. As Mboweni se dokument ’n werklike stap in ’n nuwe rigting is, sal ons bykans onmiddellik die vrugte daarvan kan pluk.” 

Hy wys daarop dat Suid-Afrika verlede jaar die 110de plek uit 162 lande beklee het op die indeks vir ekonomiese vryheid. “Suid-Afrika gee deurgaans aan plaaslike en buitelandse beleggers minder en minder redes om hul geld hier te belê.” 

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op WhatsApp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.