“Die landbou word as melkkoei gebruik om Eskom se balansstaat beter te laat lyk,” sê mnr. Francois Wilken, voorsitter van VL.

Dit is nog nie bekend wanneer die verhoging in werking tree nie. “Hierdie verhoging sal die koste van die Eskom-krag vir ’n betalende verbruiker met nog 6,5% verhoog,” sê hy. “In die landboubedryf plaas hierdie prysverhoging uiteindelik druk op die verbruikersprys van voedsel, maar dit word aanvanklik opgeneem deur die boer, wat ’n prysnemer is.”

Naas munisipale herverspreiders van krag is die landboubedryf Eskom se grootste kliënt in die Vrystaat.

VL het al herhaaldelik sy afkeur van die tariefverhoging bo die inflasiekoers uitgespreek. “Dié verhogings word meestal gedoen vanweë die verlies weens slegte bestuur en blatante korrupsie,” sê Wilken. Volgens hom is elektrisiteit ’n belangrike insetkostekomponent van die meeste intensiewe voedselproduksiestelsels soos suiwel, varkboerdery, pluimvee en besproeiingslandbou (besproeiing alleen maak 25% van die land se voedselproduksie uit).

Wilken is ontevrede omdat Nersa niks doen aan die Eskom-skuld van nie-betalende munisipaliteite nie. “Die verhoging van tariewe en die koste van die staat se reddingsboei aan Eskom kom daarop neer dat die produktiewe belastingbetalende burger toenemend gedwing word om ’n ondoeltreffende en korrupte burokrasie te finansier.”

Wilken betreur ook die burokratiese rompslomp rondom hernubare energiebronne wat kraggebruikers verhinder om meer bekostigbare voedsel vir die land te voorsien.