Pres. Cyril Ramaphosa het die Eskom-krisis verlede week tydens sy staatsrede in die parlement in Kaapstad bespreek.

Luidens die verklaring is dit vir Agri SA bemoedigend om te sien dat die organisasie se voorafgaande gesprekke met mnr. Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, aangaande die energiekrisis en die landbou se rol ter verligting van energietekorte “sy weg tot in die staatsrede gevind het”. 

Produk ontwikkel

Agri SA het saam met vooraanstaande finansieringsinstellings ’n produk ontwikkel wat finansiering onafhanklik van die balansstaat bied vir die oprig van sonkragstelsels. “Dit is vir Agri SA belangrik dat die landbousektor deel is van die oplossing tot volhoubare energievoorsiening binne die hernubare-energieraamwerk,” lui die verklaring.

Agri SA bestudeer die aankondigings in die staatsrede oor energie-verwante sake deeglik. Hy wil druk op die departement van energie, Eskom en die Nasionale Energiereguleerder (Nersa) plaas om die beleid en nodige verwante produkte so vinnig moontlik te ontwikkel.

Dit is vir Agri SA belangrik om die proses vanaf aansoek tot met Nersa-registrasie te bespoedig vir eenhede onder 1 MW, en nie net bo 1 MW soos in die staatsrede genoem is nie. “Dit is juis in hierdie opsig waar Agri SA die landboubedryf se rol in energie-opwekking erken en dus vir die sektor gunstige tydsraamwerke sal beding.”

Luidens die verklaring sal Agri SA se afdeling vir ekonomie en handel die uitvoering aan hierdie doelwitte aanvuur. Agri SA en sy affiliasies is reeds betrokke by Nersa se huidige openbare verhore rakende Eskom se regulatoriese rekeningsklaring-aansoek om R27,323 miljard van die 2018-’19-boekjaar se tekort aan inkomste te herwin.

Agri SA glo tariefverhogings alleen is nie die antwoord vir Eskom se probleme nie. “Agri SA sal die landbou se kwesbaarheid vir insetkoste wat met meer as die inflasiekoers styg, duidelik stel en die beginsels soos in die staatsrede uitgelig in die aanbiedinge insluit.”