Die implikasies en uitkringeffek van die Covid-19-pandemie wat in 2020 die ekonomie op sy knieë gedwing en daaglikse lewens ontwrig het, moet in 2021 se toekomsverwagtinge ingesluit word.

Mnr. Theo Venter, ’n politieke ontleder aan die Noordwes-Universiteit se sake- skool, sê vooruitskouings is dikwels spekulatief. Verlede jaar is ’n bewys van hoe verkeerd ’n mens kan wees omdat niemand die impak van die nuwe koronavirus aan die einde van 2019 kon voorsien nie.

Daar kan met sekerheid gesê word dat 2021 in baie opsigte ’n ingewikkelde jaar reg oor die wêreld en in Suid-Afrika gaan wees. “Ingewikkeld, want jy sal twee dinge gelyktydig moet regkry, naamlik om wêreldhandel en die ekonomie weer op dreef te kry, maar terselfdertyd die tweede en derde golf van die koronavirus te bestuur en soveel as moontlik mense in te ent.”

Teen dié agtergrond gaan Suid-Afrika polities ’n interessante jaar binne. “Jy weet reeds wat in pres. Cyril Ramaphosa se staatsrede sal moet staan en dat die begroting streng en beperkend gaan wees.”

Regter Raymond Zondo se verslag oor staatskaping behoort ná Maart 2021 bekend gemaak te word en staatskapers gaan waarskynlik aan die pen ry. In Augustus of September moet munisipale verkiesings landwyd gehou word. Dit gaan beslis ’n aanduiding gee van hoe die gewone mens die pandemie, swak dienslewering en swak ekonomie ervaar het. Dan moet die ANC ook ’n nasionale algemene konferensie hou om beleid te oorweeg, wat polities interessante gevolge kan hê.

LANDBOU BELANGRIK

Venter wys daarop dat die landbou gewoonlik aan die ontvangkant van die politieke proses is en dat wetgewing oor onteiening waarskynlik vanjaar aanvaar gaan word. Die vraag bly egter wat die parlement met artikel 25 van die Grondwet gaan doen.

Covid-19 het gewys voedselsekerheid is nie ’n vae politieke konsep nie, maar ’n werklikheid. Venter verwag ’n gunstige jaar vir die landbou, met die regering wat nou erns met grondhervorming en landelike veiligheid begin toon.

As die huidige weerpatrone vanjaar voortgesit word, is daar weer die moontlikheid van rekordoeste. Die proses van konsolidasie in landboubesighede sal voortgaan, en groter en lewenskragtiger landboumaatskappye sal die lig sien teen die agtergrond van die krisis met die Land Bank en die gepaardgaande gevolge.

Die bank het verlede jaar erge likiditeitsprobleme ervaar, maar teen die einde van die jaar het dit gelyk of hy weer rigting kry met ’n plan vir finansiële stabilisering en volhoubaarheid, asook ’n nuwe korpora- tiewe plan wat ontwikkel is om sy probleme uit te stryk.

MUNISIPALE VERKIESING

’n Groot vraagteken hang oor die uitwerking van die munisipale verkiesing op die landbousektor. Gaan die sektor, veral rakende die grondkwessie, in politieke struwelinge betrek word, en gaan die landelike gemeen- skap aangehits word om oproerig oor die grondkwessie te raak?

Mnr. Terence Corrigan van die Instituut vir Rasseverhoudinge meen wat interessant is rakende landboupolitiek en grondhervorming, is dat daar altyd baie geraas gemaak word, maar dat dit nie werklik groot kwessies in die veldtogte van politieke partye is nie.

Navorsing oor dekades toon dat grondhervorming, veral wat landbou- en landelike grond betref, nie ’n groot voorrangsaak vir Suid-Afrikaners in verkiesings is nie. Wat eintlik gebeur, is dat politici dit opblaas vanweë die politieke simboliek daarvan.

Corrigan verwag dus dat grondkwessies wel in aanloop tot die munisipale verkiesing geopper sal word, maar dat dit nie sentraal sal staan in veldtogte nie.

POLITIEKE PROJEK

As gekyk word na die beleidsomgewing, kan gesien word dat grondhervorming nie as ’n voorrangsaak beskou word nie. Die beleidsraamwerk en instellings vir grondhervorming is nie goed nie, en die kwessie van onteiening sonder vergoeding het die probleem net vererger, meen Corrigan.

Die verslag van die onafhanklike hoëvlakpaneel onder leiding van oudpres. Kgalema Motlanthe het ernstige vrae geopper rakende korrupsie, burokrasie en ’n tekort aan ondersteuning vir hervestiging.

“As jy ernstig is oor grondhervorming, moet hierdie kwessies aangepak word. Maar wat eerder gebeur, is dat dit voorgehou word as ’n nasionalistiese politieke projek oor die herstel van die ongeregtighede van die verlede. Dit is nie iets wat ’n moderne grondhervormingsprogram sal laat floreer nie.”

Hy meen as die doel is om onteiening na te jaag omdat dit as ’n polities sexy opsie beskou word, kan meer chaos verwag word. “Daar kan verwag word dat grondhervorming in die onbehaaglikheid van dié planne vasgevang sal bly. Dit sal gevestigde en opkomende boere hard tref.”

Een van die eerste dinge wat dopgehou moet word, is die wetsontwerp oor onteiening. As hierdie wetsontwerp gepromulgeer word, kan dit ernstige gevare inhou, sê hy. Die eerste een is die definisie van onteiening, wat beteken dat die staat wettiglik die reg gegee word om te onteien.

Wat met waterregte en minerale regte gebeur het, is dat die staat die voog daarvan is. Met onteiening in die prentjie kan met ’n situasie gesit word waar daar grootskaalse verlies aan eiendom is.

“Jy besit nie meer jou eiendom nie, en kry ook geen vergoeding daarvoor nie as die staat besluit om dit namens landsburgers oor te neem. Só ’n scenario kan groot skade aan die landbousektor aanrig. Megaboere sal die enigstes wees wat dit sal oorleef omdat hulle hul bedrywighede kan finansier."

Hy meen selfs al is daar nie onmiddellike grondvergrype nadat die wet ingestel word nie, sal dit steeds wees soos om ’n vuurwapen waarvan die veiligheidsmeganisme afgehaal is, vir iemand te gee. Die munisipale verkiesings lê voor, en dit is ’n feit dat die bestuur van munisipaliteite problematies is.

“My vrees is om hierdie wetgewing in hul hand te sit. Dit kan maklik misbruik word. Indien ’n situasie ontstaan waar die landbou in staatshande is, sal dit lyk soos die poskantoor, wat heeltemal in chaos gedompel is.”

Hy sê alles wat hy oor die afgelope jare waargeneem het, dui egter daarop dat veral die herverdeling van eiendomsreg en grond iets is waaroor die staat nie eintlik gretig is nie. Dit kan gesien word in die weiering om eienaarskap te gee aan swart boere sodat hulle behoorlik kan boer en hul bedrywighede kan uitbrei.

Die probleem is Suid-Afrika word op ’n beleidspad gedruk wat nie gegrond is op bewyse nie, maar grootliks deur ideologie aangevuur word, meen Corrigan.

WAT MOET VERANDER?

Gaan die land steeds vanjaar vasgevang sit in ’n beleidsomgewing wat ooglopend nie die regte toetse slaag nie? wonder mnr. Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA.

Hy sê ’n paar dinge sal anders gedoen moet word indien Suid-Afrika vir sy inwoners ’n toekoms wil skep. Die ANC moet besef dat hy die land moet regeer en ophou om in feitlik alles wat hy doen, te probeer om die ANC te red. Hy moet eerder ’n klimaat skep waar beleggers en entrepreneurs met vertroue betrokke kan raak, en na die veiligheid van die land se inwoners omsien.

“Deur eerlik na dié twee aspekte te kyk, kom elkeen tot die besef dat die regering misluk in sy taak. Die interne struwelinge van die ANC het begin om oorheersend te raak. Dit is hartseer dat die hele land die prys betaal van energie wat in die ANC aangewend word pleks daarvan om in die belang van ál die inwoners op te tree.”

Die regering is vasgevang in die drieparty-alliansie en die ineengestrengelde ideologie wat die drie betrokkenes, naamlik Cosatu, die SAKP en ANC huldig. Wêreldwyd is bewys dat hierdie soort samespanning net armoede en werkloosheid met ’n sinkende ekonomie teweegbring.

“Hy moet besef die enigste volhoubare oplossing vir Suid-Afrika se groot knelpunt, naamlik werkloosheid en die gepaard- gaande armoede, is om die ekonomie te laat groei,” sê Van Zyl.

Misdaad in sy geheel moet beveg word. “Die land benodig ’n beleidsomgewing en beleidsuitvoering deur kundige mense wat weer integriteit tafel toe sal bring.”

Die organisasie meen onteiening sonder vergoeding moet laat vaar word, en die regering moet bevestig dat die beginsel van private besitreg die grondslag vorm om beleggings te kry en die ekonomie te laat groei. Markkragbeginsels moet onderskryf word as die meganisme wat deurlopend ekonomiese prosesse rig, en die regte eko- nomiese reëls moet toegepas word.

Verder moet seker gemaak word dat die kommersiële landbousektor in stand gehou word as die basis van stabiliteit vir alle inwoners van die land.