Hy sê die toename in Covid-19-gevalle in Suid-Afrika is ’n groot bron van kommer vir almal. “Die stappe wat deur die regering gedoen is om die verdere verspreiding van die virus te bekamp, moet deur almal ondersteun word. Die instel van drastiese maatreëls word egter voorsien as die virus verder versprei.”

Van der Rheede sê weens die moontlikheid van drastieser maatreëls werk die landbousektor saam met die regering om die verskaffing van vars, noodsaaklike landbouprodukte te waarborg. “Die waardekettings wat die produkte daagliks lewer, het die nodige voorsorgmaatreëls om werkers te beskerm en om voorraad deurlopend te skuif.”

Volgens hom sal die oes, verwerking, verspreiding, aflewering en verkope van landbouprodukte en kruideniersware van verdere inperkings vrygestel word. “Wees verseker dat die landbousektor midde van hierdie krisis sal voortgaan om ons land te voed. Saam sal ons dit oorkom.”

Intussen het die genoteerde voedselmatskappy Rhodes Food Group (RFG), Suid-Afrika se voorste vervaardiger van blikkiesvrugte, konfyt en blikkiesvleis, gesê die uitbreking van Covid-19 het tot dusver nie ’n uitwerking op enige van sy vervaardigingsaanlegte nie. In ’n verklaring op die JSE se Sens-nuusdiens sê die kosgroep met handelsname soos Magpie, Bull Brand en Bisto in sy stal, hy het voorsorgmaatreëls getref om risiko’s vir sy personeel, kontrakteurs en besoekers te beperk.

Dit is volgens die verklaring nog te vroeg om kooppatrone tydens dié tydperk van afsondering vas te stel. “Baie Suid-Afrikaners vul egter hul voorraad van produkte met ’n langer raklewe aan. Dit sluit in blikkiesvleis en -groente, asook babavoedsel,” sê die groep. Hy gee die versekering dat die kapasiteit by die meeste van sy vervaardigingsaanlegte voldoende is om produksie te verhoog, selfs op relatiewe kort kennis, as die verbruikersvraag toeneem.

“Die vervaardigingsaanlegte word deur ’n robuuste voorsieningsketting ondersteun. Die groep het tans genoeg voorraad van ingevoerde grondstowwe vir die volgende 9-12 weke, as die internasinale verskaffersketting ontwrig word.”