Saam met die R314 miljoen wat in 2017-’18 bestee is, beloop die totale besteding sedert die organisasie sy vorige transformasieverslag in 2018- gepubliseer het, sowat R761 miljoen.

Luidens sy jongste verslag, waaroor mnr. Christo van der Rheede, adjunk- uitvoerende hoof, en me. Mihlali Xhala, projekbeampte, op die organisasie se jaarkongres in Pretoria gepraat het, het altesame 167 008 mense reeds uit die projekte voordeel getrek.

Die opname vir die jongste verslag is in Julie 2019 gedoen. Agri SA het 16 voorleggings van geaffilieerde organisasies ontvang.

Die organisasie is self die afgelope jaar in gesprek met tradisionele leiers om landbougeleenthede te ontgin en meer as 200 moontlike geleenthede is só uitgewys.

Vir die meeste hiervan moet nog inligting ingewin en die haalbaarheid daarvan ontleed word. Altesame 15 projekte is reeds as haalbaar bevind en sal nou omsigtigheidsondersoeke ondergaan, waarna finansiering gevind moet word en inwerkingstelling deur vennootskappe sal volg.

Agri SA plaas in sy verslag die kollig op transformasiegevallestudies en sê sy navorsing toon sekere probleme en moontlike oplossings duik telkemale op.

Die feit dat opkomende boere nie die grond besit waarop hulle boer nie, is een so ’n probleem omdat dit tot ’n tekort aan kapitaal vir bedrywighede en produksie lei. Finansiële ongeletterdheid onder dié boere vererger die situasie.

“Die oordrag van titelaktes na boere wat reeds grond bewerk, sal hulle in staat stel om, deur sekuriteit, toegang tot finansiering vir langtermynlenings te kry. Dit behoort egter met deurlopende opleiding in finansiële geletterdheid en mentorskap gepaard te gaan,” luidens die verslag.

Ander probleme is die koste van besproeiingstelsels, basiese landbouwerktuie, vervoer na markte en van lewende hawe en voer.

Die tydsberekening van regeringstoekennings en -lenings, wat meestal te laat of te vroeg vir produksiesiklusse is, benadeel boere, terwyl die minimiumloonvereistes ook ’n beperkende invloed het.

Boere en voorligtingsbeamptes se gebrek aan kommoditeitspesifieke kundigheid kry reeds aandag deurdat verskeie kommoditeitsorganisasies vennootskappe met die regering gesluit het om met opleiding te help.

Luidens die verslag behoort digitale platforms oorweeg te word om kennis en vaardighede oor te dra.