Daar is ’n toekoms vir die landbou in Suid-Afrika en die naam vir hierdie toekoms is uitvoer, supervoedsel en tegnologiese innovering, het mnr. Tommie van Zyl, uitvoerende hoof van ZZ2, tydens ’n webinaar van die Universiteit van die Vrystaat oor die geleenthede en knelpunte in die plaaslike landbou gesê.

Hy het gesê in hul eie boerdery is die mark vir hul tamaties en uie versadig, maar vir produkte soos avokado’s, kersies en bloubessies is daar groot uitvoermoontlikhede en daarby het Suid-Afrika ’n mededingende voordeel.

Een van die mededingende voordele is Suider-Afrika se ligging. “Om produkte van Durban af na Hongkong te verskeep, duur normaalweg 18 dae. Vir van ons groter mededingers duur dit baie langer. Van Peru na Hongkong duur dit 31 dae. Met sommige produkte wat ons as supervoedsel bestempel, kan hierdie tydsverloop jou maak of breek.”

Hy het gesê dit duur gemiddeld 38 dae om produkte van Chili na Singapoer te vervoer, terwyl dit van Suid-Afrika af net 13 dae duur. Daarom moet Suid-Afrika in die toekoms op hierdie groeiende markte in die Ooste konsentreer vir superprodukte soos avokado’s, kersies, bloubessies, appels en pere.

Suid-Afrika het nog altyd goed daarin geslaag om hom te laat lei deur prysaanduidings en die vraag na produkte om te bepaal waarin belê moet word. “Daarom is Suid-Afrika een van die produktiefste landbousektore ter wêreld en die prysmededingendheid van ons uitvoerprodukte getuig daarvan.” Dit word egter bedreig deur verswakkende staatsinstellings en die verwatering van eiendomsregte. Hy het gesê die oplossing lê daarin dat boere self na hul belange moet omsien, risiko’s goed moet bestuur en in uitnemendheid.

Produktiwiteit en prys 

“Produktiwiteit moet ook voortdurend verbeter. Soms kan jy nie veel aan die prys verander nie, maar jy kan dalk baie doen om die opbrengs per hektaar te verhoog. Soms kan jy ook wel iets aan die prys doen deur te kyk na die toevoeging van waarde. Daarby moet produksiekoste ook deurentyd aandag geniet en dit gaan nie net daaroor om koste te besnoei nie. Soms moet jy koste verhoog om daardeur ’n hoër inkomste te kan verkry.”

Van Zyl het gesê dit raak ook toenemend nodig om saam met die owerhede te werk om byvoorbeeld paaie en infrastruktuur te herstel en alternatiewe energiebronne te ontgin. Beperkinge moet so goed moontlik bestuur word en nuwe ontwikkelinge soos digitalisering en die benutting van grootdata moet aangegryp word. “Verandering is ’n werklikheid en ons moet dit kan bestuur om te kan oorleef in ’n nuwe era van interkonnektiwiteit. Die toekoms is belangriker as die verlede.”  

Mnr. Wandile Sihlobo, hoofekonoom van die landbousakekamer Agbiz, het gesê die groei in die landbou verlede jaar was uitvoergedrewe. “Landbou-uitvoer het verlede jaar gestyg tot die tweede hoogste vlak ooit van sowat $10,2 miljard (R144,4 miljard). Vertragings en die doeltreffendheid by hawens skep egter probleme.”

Hy het gesê ondanks die probleme was landbou-uitvoer in die eerste helfte van vanjaar al sowat $6,1 miljard (R86,4 miljard) – wat 26% meer is as in die ooreenstemmende tyd verlede jaar. Ten opsigte van waarde word sowat 49% van wat plaaslik in die landbou geproduseer word, uitgevoer. “Vanjaar se uitvoersyfers behoort steeds goed te lyk, maar logistiek raak toenemend ’n groter probleem en dit gaan ander sektore ook belemmer.” 

Mnr. Nico Groenewald, landbouhoof van Standard Bank, het klem gelê op die belangrikheid om te konsentreer op produktiwiteit. “Daar is nie meer baie uitbreidingsmoontlikhede vir die meeste bestaande kommersiële boere nie en daarom moet hulle klem lê op die verbetering van produktiwiteit en die boustene daarvoor is doeltreffendheid en innovasie.

“Ek is trots op Suid-Afrikaanse boere se vermoë om van die beste boere ter wêreld te wees sonder die luukse van subsidies, maar ons moet internasionaal kan meeding. Ons moet sorg dat ons op die voorpunt bly en dat ander lande ons nie verbysteek nie.”