Me. Thoko Didiza, minister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, en haar span het hierdie onderneming aan die parlement se portefeuljekomitee vir landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling gegee.

Van die dringendste wetgewing waaraan aandag gegee moet word, is die Wet op die Opgradering van Grondbesitregte (Wet 112 van 1991). Die Grondwethof het die wetgewing op 30 Oktober 2018 ongeldig verklaar omdat dit slegs mans as die hoofde van ’n familie erken en meebring dat grondbesitregte wat outomaties omgeskakel word in eienaarskap, dan slegs mans bevoordeel. As dié wetgewing nie aangepas word binne die 18 maande wat daarvoor toegestaan is nie, sal dit ’n vakuum skep. Die eienaarskap wat mense vanweë die wetgewing gekry het, sal dan nietig wees, en hulle sal dan eers ’n hersieningsproses vir eienaarskap moet deurgaan. Die tydperk van 18 maande eindig op 30 April.

Didiza het aangedui dat die wysigingswet op 12 Februarie voor die kabinet vir goedkeuring sal dien en dat die hof om uitstel gevra sal word as daar te min sal wees om dit deur die parlementêre proses te neem. ’n Regsadviseur van die parlement het kommer uitgespreek dat die departement reeds verlede jaar versoek is om uitstel te kry, maar dat dit nog nie gedoen is nie.

Vier ander stukke wetgewing rakende eiendomskwessies waaraan die departement voorrang gaan gee, is die wetsontwerp op kommunale grondregte wat verblyfreg in kommunale gebiede reguleer en die Wet op Kommunale Grondregte (Wet 11 van 2004, ook bekend as CLaRA) moet vervang; die wetsontwerp op die akteregister; die wetsontwerp op die herverdeling van grond; en die wysigingswetsontwerp op eiendomswaardering.

Landbouwette

’n Landbouwet wat lank uitstaande is en spoedig ingestel moet word, is die wetsontwerp op die bewaring en ontwikkeling van landbougrond.

Omdat landbougrond al hoe meer vir ander ontwikkelings soos mynbou en behuising aangewend word, en weens veranderende omgewingstoestande, begin dit al hoe dringender raak om toe te sien dat landbougrond optimaal vir voedselproduksie aangewend word.

Dié wetgewing wil regulasies deurvoer om landbougrond te beskerm teen onderverdeling en ontwikkeling. Dit sal verg dat die Wet op die Onderverdeling van Landbougrond (Wet 70 van 1970) – wat die onderverdeling van landbougrond moontlik maak – herroep moet word.

In 2016 is ’n tweede weergawe van die wetsontwerp in die Staatskoerant vir kommentaar gepubliseer en in 2017 het dit voor die nasionale ekonomiese, ontwikkelings- en arbeidsraad (Nedlac) gedien.

Slegs die Suid-Afrikaanse Mineraleraad was teen die aanvaarding van die wetgewing gekant, het mnr. Mike Mlengana, direkteur-generaal verantwoordelik vir landbou, gesê. Die raad is ontevrede dat sy lede eers goedkeuring van die departement van landbou moet kry voordat hulle grond kan ontwikkel wat as landbougrond beskou word. Die raad het 20% van die landbougrond, waarvan hy 80% nie gebruik nie.

Om konsensus te bereik sodat die wetgewing voor die parlement ter tafel gelê kan word, het Didiza voorgestel dat die waarde van landbougrond in drie kategorieë – hoë-, middel- en laewaardegrond – verdeel word.

Didiza het gesê die twis met ander departemente handel oor kommer dat ontwikkeling belemmer sal word, aangesien landbougrond wyd uitgestrek is. “Ek meen die spanning met ander departemente is weens kommer dat niks met landbougrond gedoen kan word nie, al is dit van lae gehalte.”

Die drie kategorieë word as ’n werkbare oplossing gesien. Die departement beoog om hierdie wetgewing teen Augustus by die parlement in te dien.

Die departement beoog ook om die wysigingswet op landbouprodukstandaarde teen Augustus vanjaar na die Parlement te bring; die wetsontwerp op die bemarking van landbouprodukte-agente teen Junie, die wysigingswet vir plantgesondheid voor September; en die wysigingswet op die uitvoer van bederfbare produkte teen Julie.