Mnr Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA, het op die toekenningsgeleentheid vir die organisasie se Jongboer van die Jaar die bedryf se groter betrokkenheid by beplanning as ’n belangrike wending uitgesonder. “Reeds in 2008 het TLU SA ’n landboustrategie vir volhoubaarheid saamgestel waarin gesê is die landbou in die land moet deur produsente gerig word en ons moet nie toelaat nie dat mense wat nie landbou verstaan nie, die beleid bepaal. Ongelukkig was dit die werklikheid waarin ons vasgevang was en ons eie dokument het nie regtig ooit beslag gekry nie.”

Hy het daarop gewys dat die regering vanjaar opnuut met ’n meesterplan vir die landbou gekom het. “Ek het baie groot waardering daarvoor dat belanghebbendes in die landbou-waardeketting vanjaar vir mekaar gesê het ons kan nie op hierdie pad verder gaan nie, want dit is nie uitvoerbaar nie. Ons begin nou by die punt kom waar die waardeketting sy eie plan skryf wat hy vir die regering kan gee en sê hier is ’n volhoubare, uitvoerbare plan wat die landbou sal laat leef.”

Mnr. Henry Geldenhuys, president van TLU SA, het gesê hulle wil in 2021 konsentreer op ’n gees van samewerking met alle organisasies. “Ek dink dit gebeur reeds, maar ons gaan nog meer daarop konsentreer. Ons werk elke dag hard vir ’n goeie landboustrategie, maar daar is al lankal een geskryf wat misgekyk word.” Hy sê inspraak en onderlinge eensgesindheid binne die georganiseerde landbou is baie belangrik, veral as ’n mens in ag neem dat sowat 50% van die boere nie by die georganiseerde landbou betrokke is nie en die ander 50% deur verskillende organisasies verteenwoordig word.

“Vir stabiliteit en groei in die land is die ideaal ’n gesonde beleidsomgewing, geen korrupsie nie, private besitreg wat erken moet word, en voedselsekerheid. En dan moet ons ook vir mekaar sê daar is geen plek vir sosialisme en kommunisme nie.”

Mnr. Danie Bester (35) van Balfour in Mpumalanga is op die geleentheid as die wenner van TLU SA se Jongboerkompetisie bekroon. Hy het ná skool aan die Potchefstroomse Landboukollege gestudeer. Soos die meeste kinders wat op ’n plaas grootgeword het, boer hy al vandat hy ’n klein seuntjie was. Hy boer die afgelope 12 jaar op Rietbult by Balfour in Mpumalanga. Hy behartig die graangewasse, wat bestaan uit mielies en sojabone, terwyl sy pa, wat saam met hom boer, die beesboerdery behartig.

Benewens die spogtitel ontvang Bester van die borge ’n oorsese reis na die Manitou-fabriek in Frankryk, R25 000 kontant van Santam en R10 000 kontant van CMH Ford Hatfield.Mnr. CT van der Merwe (35) van Dendron in Limpopo is as die naaswenner aangewys. Hy boer die afgelope 13 jaar op Al3 Boerdery met aartappels, botterskorsies, uie, beeste en het onlangs draakvrugte by hul produkte gevoeg.Mnr. Janis Terblanche (32) van Marble Hall in Limpopo beklee die derde plek. Hy boer al tien jaar. Hy het die Janis Terblanche Boerdery ses jaar gelede gekoop en boer heeltyds met druiwe.