Hy het in antwoord op ’n geskrewe navraag van Landbouweekblad gesê die JSE is met verskeie belanghebbendes in gesprek wat voorbehoude geopper het.

Die JSE word reeds deur ’n onafhanklike regeringsinstelling gereguleer, het hy gesê in antwoord op prof. Johan Willemse, onafhanklike landbou-ekonoom, se aanbieding op Graan SA se jaarkongres waarin hy gevra het wie se mandaat is dit om oor die oorhoofse geloofwaardigheid van die graanmark toesig te hou. Willemse se standpunt is dat die JSE, as private maatskappy wat sy aandeelhouers se belange dien, nie terselfdertyd toesighouer oor die mark en ’n deelnemer in die mark kan wees nie.

“Die JSE word deur die gedragsowerheid vir die finansiële sektor (FSCA) gereguleer. Dus, hoewel die JSE ’n private maatskappy met aandeelhouers is, vereis ons lisensie om die beurs te mag bedryf dat ons vir die reguleerder kan bewys ons bedryf en bestuur die markte robuus en konstruktief,” aldus Karuaihe. Die JSE se mark vir afgeleide instrumente, insluitend die metodologie om fisiek graan te lewer, vorm deel van hierdie regulatoriese raamwerk.

Hoewel die primêre oogmerk van die JSE se termynmark is om prysrisiko te bestuur, is die vermoë om fisieke lewering (van graan byvoorbeeld) te doen, belangrik, sê Karuaihe.

“Dit verseker ’n samehang tussen die termynmark en die kontantmark. Dis nie ongewoon dat die termynmark slegs beperkte fisieke lewering doen vergeleke met die totale onderliggende fisieke oes nie. Die termynkontrak word gebruik om jou prysrisiko te beheer terwyl jy uiteindelik jou fisieke graan in die kontantmark verkoop,” het hy gesê na aanleiding van Willemse se argument dat slegs 25% van die oes via die termynmark gelewer word, maar dié 25% bepaal die prys van die ander 75%.

“Dit is ’n akkurate stelling dat 25% van die fisieke lewering op die JSE geskied teenoor 75% van die fisieke graan wat in die kontantmark verhandel word. Maar die belangriker vraag is hoeveel van daardie 75% word verskans deur die termynmark te gebruik?”

Raphael Karuaihe
Dr. Raphael Karuaihe. Foto: Verskaf

Platform

Karuaihe voer aan dat dít juis die rol van die JSE is, om ’n platform te wees waar die mark sy prysrisiko vir die onderliggende hulpbron kan bestuur. As ’n mens die aantal termynkontrakte in ag neem wat verhandel word, veral vir die meer likiede kontrakte soos witmielies, bly hierdie platform die maatstaf vir verskansing. “Dink daaroor: Dit is belangriker om ’n verskansingsprys vas te maak op sê R9 500/t vir sojabone drie maande voor die oes, wanneer daar ’n geleentheid is om dit te doen, as om te wag tot jy klaar geoes het en dan eers te begin bemark en R7 500/t te ontvang. Dit sluit enige potensiële basispremie uit, wat in die kontantmark onderhandel word.”

Die JSE ondersteun Willemse se versoek vir meer georganiseerde kontantmarkte. “Dis nie iets nuuts nie en die JSE het hierdie natuurlike (groei tot) volwassenheid van die mark vir jare reeds ondersteun. ’n Meer georganiseerde kontantmark bring deursigtigheid oor die basis-premie. Ons ondersteun hierdie markte, want ons glo die JSE se termynmark komplementeer net hierdie aktiwiteite.”

Karuahe sê daar is voorbeelde van lande soos Indië wat die kontantmark reguleer en dan is daar verdere voorbeelde waar reguleerders verkies om die mark te reguleer waar daar ’n soort finansiële instrument is, en die suiwer funksionering van die kontantmark aan sy eie bedrywighede oorlaat.

“Ongeag die soort regulering, is die belangrikste aspekte in die kommoditeitsmark die geloofwaardigheid wat met die fisieke kommoditeit geassosieer word. En as silosertifikate uitgereik word, moet dit geldig wees wat betref gehalte en hoeveelheid. Dit moet ook nagekom word deur die entiteite wat dit uitreik.”