Die landbousakekamer Agbiz en die Nywerheidontwikkelingskorporasie (IDC) se indeks van landbousakevertroue het in die vierde kwartaal van vanjaar tot 42 punte verswak.

Mnr. Wandile Sihlobo, hoof van navorsing by Agbiz, sê dit is die laagste sedert die vierde kwartaal van 2009. “Die resultate, wat onder die neutrale 50-puntmerk is, dui daarop dat landbou-ondernemings neerslagtig oor saketoestande in Suid-Afrika is.”

Die indeks het in die derde kwartaal van 54 tot 48 punte verswak.

Sihlobo sê die vierde kwartaal se verswakking is veral deur lae vertroue oor omset, netto bedryfsinkomste en algemene landboutoestande veroorsaak. Eersgenoemde twee hou verband met laer uitsette, selfs al was gewaspryse effens hoër as verlede jaar.

Laer vertroue oor algemene landbou-omstandighede is deur ondergemiddelde reënval in die sentrale en westelike dele van die land veroorsaak, wat plantbedrywighede vertraag het, asook die vooruitsig op ’n El Niño later in die 2018-’19-somer.

Die opname is in November gedoen. 

Moedeloos

Sihlobo sê hoewel die bogenoemde drie subindekse baie gedaal het, was hulle nie alleen vir die oorhoofse stand van sake verantwoordelik nie. Subindekse waarvan die punte gestyg het, was steeds onder die langtermyngemiddelde.

“Daar is moedeloosheid in die sektor,” sê hy. So byvoorbeeld het sakelui se vertroue oor ekonomiese omstandighede met 4 punte gestyg, maar dit was steeds laag op 18 punte. Vertroue rakende kapitaalbeleggings het met 7 punte tot 58 verbeter, nadat dit in die vorige kwartaal met 14 punte gedaal het.

Sihlobo sê verkope van landboutoerusting was die hele jaar sterk, met trekkerverkope wat in die eerste 10 maande van die jaar 9% hoër as in die ooreenstemmende tydperk verlede jaar was.

Dit is gedeeltelik deur verwagtinge vir groter someraanplantings gedryf, wat nou onseker is weens droë toestande en hoë temperature in die sentrale en westelike dele van die land.

Sihlobo sê sommige respondente sê steeds dat die gebrek aan duidelikheid oor grondhervormingsbeleid ’n wolk is wat oor hulle bly hang en belegging op lang termyn kan benadeel.

Hoewel die Suid-Afrikaanse Weerdiens op 30 November gesê het bogemiddelde reënval word van Desember 2018 tot Februarie 2019 in die somersaaigebiede verwag, sal vertroue volgens Sihlobo nie betekenisvol verander nie tensy daar duidelikheid oor grondhervormingsbeleid kom.

“Enige roekelose beweging in beleid, wat eiendomsregte kan ondermyn, kan vooruitsigte vir belegging en langtermyngroei in die sektor belemmer,” sê Sihlobo.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.