Hul optimisme het daartoe bygedra dat Agbiz en die nywerheidsontwikkelingskorporasie (IDC) se indeks vir landbousakevertroue in vanjaar se derde kwartaal marginaal vanaf 44 tot 46 punte verbeter het.

Mnr. Wandile Sihlobo, hoofekonoom van Agbiz, wat die indeks saam met die IDC opstel, sê die indeks is egter nou al vyf kwartale onder die neutrale 50-puntmerk. “Ons is bekommerd dat as dit vir ’n lang tydperk op hierdie vlakke bly, dit tot dalende belegging in die sektor kan lei, hoewel dit nie tans die geval is nie.”

Van die faktore wat tot gedempte vertroue in die landbousektor lei, veral die droogte, is buite beleidmakers se beheer.

Volgens Sihlobo kan beleidmakers egter ’n verskil maak aan kwessies soos duidelikheid oor grondhervormingsbeleid en waterregte en groter belegging in sterker biosekerheid en infrastruktuur by hawens.

Die opname vir die jongste indeks is van 30 Augustus tot 10 September onder landbou-ondernemings in alle sektore gedoen.

Sihlobo sê in die subindeks oor algemene landboutoestande het sakelui se vertroue met 11 punte tot 42 verbeter en dat dit spesifiek tuinboukundige ondernemings, finansiële instellings en ander landboudienstemaatskappye was wat optimisties was.

“Buiten vir die weerstoestande in die Wes- en Noord-Kaap het niks grondliggends sedert die vorige kwartaal op plaasvlak verander nie.

Gunstige weerstoestande

“Ons vermoed dus dat die voorspellings vir gunstige weerstoestande in die 2019-’20-somerseisoen landbousake-ondernemings se opvattings in die opname beïnvloed het.”

Die sentiment oor uitvoer het met 14 punte tot 50 verbeter. Sihlobo sê dit is dalk te danke aan die styging van 14% op ’n kwartaalgrondslag, tot $2,4 miljard R35,2 miljard), in Suid-Afrika se landbou-uitvoer in die tweede kwartaal.

Nóg subindekse waar landbousake-ondernemings meer optimisties was, was markaandeel, indiensneming, voorsiening vir swak skuld en finansieringskoste.

Landbousakelui se vertroue het egter afgeneem rakende omset, netto bedryfsinkomste, kapitaalbelegging en ekonomiese toestande.

Sihlobo sê die swak somergraan- en oliesade-oes beïnvloed landbousake-ondernemings se finansies, terwyl woluitvoer na China die laaste paar maande deur sanitêre en fitosanitêre kwessies benadeel is.

Nie alle ondernemings het vertroue verloor rakende kapitaalbeleggings nie. Sommiges in die wyn-, lewendehawe- en graanbedrywe se vertroue het verbeter.

Ondernemings se vertroue in algemene ekonomiese toestande het met 3 punte tot 24 geval. 

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op WhatsApp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.