Mnr. Johan Ehlers, uitvoerende hoof van Agri Expo, het tydens die genootskap se jaarlikse ledeskouvergadering, wat verlede week by die Diamant-landgoed buite die Paarl gehou is, gesê die meeste landbouskoue staan nie vandag nie, hulle lê of kruip.

Luidens ’n verklaring het Ehlers gesê landbouskoue trek swaar as gevolg van die pandemie. Dit is noodsaaklik om in te gryp om die toekoms van landbouskoue te verseker.

In sy oorsig van Covid-protokolle het Ehlers daarop gewys dat beperkings op die hoeveelheid besoekers nie konsekwent toegepas word vir verskillende geleenthede soos landbouskoue en markte nie. “Ons soek konsekwentheid van die regering wat beperkings op geleenthede betref.”

Meer as 50 afgevaardigdes van skoue in die Wes- en Noord-Kaap wat lid is van die Kaap die Goeie Hoop Landbougenootskap, het die geleentheid bygewoon. Die doel van die jaarlikse byeenkoms is om ’n platform te skep om idees uit te ruil, nuwe denkpatrone te stimuleer, neigings in die landbou te bespreek en skoudatums te koördineer. Vanjaar se tema was “Hoop in uitdagende tye”.

Planne

Organiseerders van verskillende skoue het tydens die vergadering vertel watter planne hulle moes maak om te oorleef of met hul geleenthede voort te gaan.

Mnr. John Bennet, ringmeester van die Sydney Royal-skou in Australië, het via Zoom ingeskakel om te vertel hoe hierdie skou, wat in 2020 slegs twee weke voor die skoudatum afgelas is, moes aanpas om vanjaar te kon voortgaan.

Volgens Bennet is die beperking in Sydney dat een persoon vir elke twee vierkante meter toegelaat word, ongeag binne of buite. Die Sydney Royal-skou kon derhalwe met Covid-19-protokolle oor 12 dae 800 000 besoekers ontvang, meer as 60 000 besoekers per dag. Veral tegnologie soos hitte-opsporing is ingespan vir skarebeheer pleks daarvan om individue te tel.

Plaaslik het mnr. Jurie Uys van Heidelberg-skou vertel hoe hierdie landbougenootskap met die ondersteuning van die hele gemeenskap meer as R100 000 kon insamel. Meer as 2 700 hamburgers is oor twee dae in April in die gemeenskap verkoop. “Die resultaat is dat ons die skouterrein se hekke vir ’n verdere 11 maande kan oophou.”

Ekonomiese ontwikkeling

Australië se regering het verlede jaar ’n bykomende Aus$36 miljoen (sowat R382 miljoen) aan landbougenootskappe bewillig nadat die meeste landbouskoue afgestel is.

Volgens Ehlers het verskeie landbouskoue in die Wes-Kaap, waarvan vele vanjaar die tweede agtereenvolgende jaar afgestel is, danksy die inisiatief van Agri-Expo baat gevind by ’n spesiale ministeriële toekenning van dr. Ivan Meyer, die Wes-Kaapse minister van landbou.

Meyer het in sy spreekbeurt die belangrikheid van landbouskoue se ekononomiese impak en werkskepping in plaaslike gemeenskappe beklemtoon, asook skoue se bydrae tot maatskaplike samehorigheid. Hy het samewerking tussen skoue en munisipaliteite tot ’n prioriteit verklaar, want “landbouskoue is sentraal in plaaslike ekonomiese ontwikkeling”.