Dié toename verteenwoordig ’n normale toename in inflasie, asook ’n afname in winsgewendheid. “Winsgewendheid is toenemend onder druk, veral in die graanbedryf. Daar is egter bedrywe, soos die vrugte- en neutbedryf, wat positiewe groei aanteken,” sê Purchase. 

Die veebedryf beleef ook positiewe groei in die nadraai van die droogte. Talle boere moet weer hul kuddes opbou, wat ’n invloed op vleispryse het.

Twee faktore wat veral graanboere se winsgewendheid beïnvloed, is internasionale kommoditeitspryse en die droogte.

Nie ’n grootskaalse ramp

Die organisasie het onlangs met opnames in die winter- en somerreënstreke begin om boere en landboubesighede se posisie te bepaal. Purchase sê hoewel die opnames gemengde resultate lewer, veral as verskillende bedrywe in ag geneem word, is ’n grootskaalse skuldramp nie op hande nie. 

In die winterreënstreek is boerderye se winsgewendheid onder erge druk, veral gegewe die droogte. “Ons is nog besig met die finale syfers, maar tans stuur dit nie op ’n ramp af nie. ’n Ramp kan wel voorkom as dit vanjaar nie goed reën nie.” 

In die somerreënstreek lyk die boere se situasie in die algemeen goed. “Dinge lyk nie fantasties nie, maar goed.”

Purchase sê daar is boere wat danksy die rekordoes in 2016-’17 van hul skuld kon diens. Hoewel daar boere is wat die uitwerking van lae kommoditeitspryse weens die rekordoes ná die droogte moet absorbeer, presteer ander se veekomponent goed, wat hul geldsake help gesond hou.