Só het mnr. Christo van der Rheede, uitvoerende direkteur van Agri SA, gesê op die virtuele jaarkongres van die misstofvereniging Fertasa, waar hy oor Suid-Afrika se landbouvooruitsigte vir vanjaar gepraat het.

Hy het gesê die ekonomiese groei-momentum in die bedryf sal voortduur en gunstig tot die land se BBP bydra. Hy skryf dit veral toe aan gunstige produksie-omstandighede, kommoditeitsurplusse, gunstige rentekoerse en sterk uitvoermoontlikhede vanweë ’n sterk buitelandse vraag.

Om sy siening te staaf, het Van der Rheede verwys na trekkerverkope wat in April vanjaar 23% meer was as verlede Apri, en stroperverkope wat in dieselfde tydperk op ’n jaargrondslag 29% hoër is. “Die stroperverkope dui op rekord-, of naby-rekordoeste van somergewasse vanjaar.” 

Verliese

Hy het ook na die invloed van die Covid-19 pandemie verlede jaar verwys en gesê hoewel die lande se ekonomiese groei met meer as 5% afgeneem het, het die landbou met 13,1% gegroei. “Die landbou was ’n noodsaaklike diens en het baat gevind by goeie oeste en ’n verslapping van inperkingsregulasies vir die sektor.”

Nogtans word bereken dat weens ’n laer vraag na produkte in die landbou-, bosbou- en visserysektor hulle sowat R13,5 miljard moes inboet. Dit word veral toegeskryf aan die inperking wat vervoer ontwrig het, beperkte dienste wat internasionale handel aan bande gelê het, ’n afname in die vraag na landbouprodukte deur restaurante en die informele mark, en ’n afname in toerisme.

Van die sowat 1,4 miljoen werkgeleenthede wat in 2020 verlore gegaan het, was 75 000 in die landbousektor.

Hoewel Van der Rheede optimisties is oor die vooruitsigte vir die meeste landboubedrywe, is daar ook probleme en knelpunte. Stygende insetkoste is ’n groot bekommernis. “Kunsmis, plaagdoders en diesel is die vernaamste insetkoste vir graanboere en daar was kwaai stygings vanjaar. Veral kunsmispryse  is op die hoogste vlak in meer as 24 maande.” 

Misdaad

Nog ’n groot probleem is misdaad. “Veediefstal het verlede jaar tot ’n ekonomiese verlies van R1,4 miljard gelei. Mnr. Bheki Cele, minister van polisie, het met die bekendmaking van misdaadstatistiek in November 2020 vir die eerste keer erken dat veediefstal ’n ernstige misdaad is.”

Van der Rheede het ook verwys na die bedreiging van klimaatsverandering, boere se probleme met toegang tot finansiering, veral weens die likiditeitsprobleme van die Land Bank, en beleidsonsekerheid oor kwessies soos onteiening sonder vergoeding.

Dr. Nicole Hart, voorsitter van Fertasa, het in haar voorsittersverslag gesê die landbou is in die huidige omstandighede ’n goeie sektor om by betrokke te wees. Die sektor hou die sleutel tot voedselsekerheid en staan nog sterk ná n baie stormagtige jaar vir almal.

Dr. John Purchase, uitvoerende hoof van die landbousakekamer Agbiz, wat oor vennootskappe ter wille van volhoubaarheid gepraat het, glo die verwagte ekonomiese groei vir die sector sal vanjaar 4% wees. Hy het daarop gewys dat die sektor sedert 2010 met 44% in bruto waarde toegeneem het, en die produksievolumes het in hierdie tyd met 19% gegroei. Die grootste toename in brutowaarde was in tuinbou (70%), gevolg deur diereproduksie (43%) en gewasproduksie (22%).

Purchase het gesê die landbou is ’n groot bate vir Suid-Afrika, “maar ons leef in onsekere tye met baie risiko’s en veranderlikes. Van dit is beheerbaar en ander nie. Risiko’s skep egter geleenthede en belonings, en ons moet konsentreer op daardie risiko’s en geleenthede wat ons verstaan en kan bestuur.”