Die skema, wat die verbeelding van veral die wêreld se grootste herversekeraars aangegryp het, is hoog op die agenda op die kongres wat by die Victoria-waterval in Zimbabwe gehou word. Pres. Emmerson Manangagwa van Zimbabwe gaan ook die kongres bywoon.

Dr. Theo de Jager, voorsitter van Sacau, was saam met mnr. Ishmael Sunga, besturende direkteur, ten nouste met die ontwikkeling van die skema gemoeid.

“Vanweë die uitgebreide geografiese verspreiding en volume kan die voordeel van skaal benut word om die risiko in landbou te versprei,” sê De Jager. 

“Sacau, wat 17 nasionale landbou-unies in 12 lande in Suider-Afrika verteenwoordig, speel sedert 2011 ’n leidende rol in die internasionale debatte oor klimaatsverandering. Met die standpunt dat niemand so kwesbaar vir klimaatsverandering is as die wêreld se boere nie, het Sacau reeds met COP17 in Durban versoek dat die Verenigde Nasies (VN) ’n fonds moet skep om slagoffers van natuurrampe by te staan om hul boerderye weer op die been te kry.”

Hy sê die VN het dit egter duidelik gestel dat boerdery ’n besigheid is en dat dit soos enige ander besigheid teen rampe verseker moet word. Slegs wanneer boere ’n eie bydrae kan lewer, kan die VN dit oorweeg om slagoffers tegemoet te kom deur boere se bydrae te ewenaar.

“Alle versekering is egter van betroubare produksiedata afhanklik, wat in die Afrika-konteks maar skraps is. Data is in ’n digitale era die nuwe goud in landbou en min instellings het die vermoë en toegang om betroubare data uit die totale landbousektor te versamel. ’n Landbou-unie is egter ideaal daarvoor geposisioneer.”

Sacau het reeds in 2014 begin werk aan ’n skema om landbou-unies as data-koördineerders en data-eienaars te posisioneer om sodoende ook ’n inkomste te verdien. De Jager sê die meeste landbou-unies wêreldwyd het inkomsteprobleme omdat ’n moderne landbou-unie nie meer net met ledegeld bedryf kan word nie.

“Danksy goeie wenke tydens ’n besoek verlede Februarie aan mnr. Bill Gates, stigter van Microsoft, het die leierskap van Sacau met die samewerking met Agri Limpopo, Lesotho National Farmers Union (Lenafu), Swaziland National Agricultural Union (SNAU) en verskeie plaaslike landbouleiers uit Afasa, TLU SA en Agri Wes Kaap besluit om ’n versekeringsgedrewe lidmaatskapmodel vir landbou-unies in Suider-Afrika op die proef te stel.” 

Die gidsprojek het die steun van die internasionale sambreelorganisasie vir landbou-agentskappe, Agricord in Brussels, en die VN se internasionale fonds vir landbou-ontwikkeling in Rome gekry. Nadat De Jager verlede jaar tot voorsitter van die World Farmers Organisation (WFO) verkies is, het die WFO ook besluit om die model einde Mei op sy kongres in Moskou vir wêreldwye toepassing te oorweeg. 

Volgens De Jager leen die stelsel hom daartoe om data op plaasvlak te versamel. Dit kan as ’n bestuurshulpmiddel aan die boer terugbesorg word, maar verwerkte data kan ook verkoop word en ’n alternatiewe inkomstestroom vir landbou-unies skep.

Die wêreld se kapitaalkragtigste landbou-unies, soos die Farm Bureau in Amerika en Coldiretti in Italië, het almal welvaart geskep deur landbouversekeringsdienste aan hul lede te verskaf. 

Verteenwoordigers van Sacau, Agri Limpopo, TLU SA, Afasa en versekeringsmaatskappye het reeds verlede jaar begin om ’n toepassingstrategie te ontwikkel.

“Die koördinering van die gidsprojekte sal waarskynlik deur Sacau se landbou-agentskap geskied, veral ná die verbintenis van Agricord om die gidsprojek in Suider-Afrika geldelik te ondersteun. 

“Die byvoordele van meganismes om die impak van klimaatsverandering op die landbou te demp en te verseker dat boere die eienaarskap van landbou-data behou, maak die idee soveel aantrekliker.”

Hy sê Sacau het gidsprojekte in 2015 in Tanzanië gevestig. In die afwesigheid van grondeienaarskap as sekuriteit is waardeketting-gebaseerde finansiering op die proef gestel. Dit het gewys landbouversekering is in sulke gevalle onmisbaar vir finansiering.

De Jager tree vandeesweek uit as voorsitter van Sacau. Hy sal opgevolg word deur dr. Sinare Sinare van Tanzanië, ’n veeboer en veearts wat ook in die raad van die East African Farmers Federation dien.