Die landbousakekamer Agbiz en die nywerheidsontwikkelingskorporasie (IDC) se sakevertroue-indeks was in die derde kwartaal 12 indekspunte hoër as in die tweede kwartaal vanjaar.

Op 51 is dit net-net bokant neutrale vlak van 50, wat daarop dui dat landbou-ondernemings marginaal meer optimisties is oor saketoestande in Suid-Afrika, sê mnr. Wandile Sihlobo, hoofekonoom van Agbiz en samesteller van die indeks. “Dit bevestig die data wat aantoon dat die meeste landbou-ondernemings en die landbousektor nie ernstig deur die voortslepende pandemie geraak is nie, aangesien die sektor as noodsaaklik verklaar is en grootliks oop was tydens die inperking.”

Die opname het tien subindekse, waarvan vertroue in almal buiten twee – indiensneming en voorsiening vir swak skuld – verbeter het. Vertroue in die algemene landboutoestande het in die derde kwartaal met 27 punte tot 79 toegeneem. Dis die hoogste vlak sedert 2014 en is ’n aanduiding van ’n goeie landbouseisoen wat kan voortduur.

Ander subindekse wat op ’n kwartaalgrondslag merkbaar verbeter het, sluit in omset (21 indekspunte hoër op 51) en netto bedryfsinkomste (26 punte hoër op 47). Dit word veral deur optimisme in die tuinboubedryf en die finansiële dienstesektor, asook gunstige produksietoestande vir winter- en somergewasse bevorder. Die subindeks wat uitvoervolume meet, het met 19 punte tot ’n vlak van 55 verbeter. Die styging word ondersteun deur die verswakking in die waarde van die rand, wat die randwaarde van uitvoer verhoog.

Sihlobo waarsku dat die goeie stygings in die sakevertroue-indeks nog nie beteken dat alles rooskleurig in die landbousektor is nie. “Die wyn- en tabakbedryf voel steeds die ongunstige uitwerking van inperkingsregulasies wat tot ’n algehele verbod op verkope gelei het.”

Vertroue in algemene ekonomiese toestande, wat in die derde kwartaal van 10 indekspunte tot 19 verbeter het, weerspieël wel die siening dat die verslapping van die inperkingsregulasies nou ook hierdie twee sektore se sake-aktiwiteit tot normaal kan laat terugkeer, sê Sihlobo. “Die indekspunt van 19 is egter ver van die neutrale vlak van 50, wat beteken daar is steeds ’n mate van pessimisme wat volhard.”