Vertroue het teruggesak in die landbousektor, maar dis nie slegte nuus nie. Eintlik kry die sektor net sy asem terug ná ’n rekordlopie in die tweede kwartaal vanjaar.

Die landbousakekamer Agbiz en die nywerheidsontwikkelingskorporasie se sakevertroue-indeks was in die derde kwartaal agt indekspunte laer as in die tweede kwartaal vanjaar toe die indekspunt ’n algehele rekordvlak van 75 bereik het, die hoogste sedert sy ontstaan in 2001.

Die derde kwartaal se indekspunt van 67 is steeds hoër as enige indekspunt wat sedert 2014 behaal is en boonop gerieflik bokant die neutrale vlak van 50. Dit beteken dat gunstige omstandighede steeds vir die Suid-Afrikaanse landbousektor en vir landbou-ondernemings geld, sê mnr. Wandile Sihlobo, hoofekonoom by Agbiz en samesteller van die indeks. “Die optimisme weerspieël die groter oeste en hoër hulpbronpryse wat in 2020-’21 behaal is. Dit is ook ’n aanduiding dat die goeie landbouseisoen kan voortduur.”

Die opname vir die jongste indeks is in die laaste week van Augustus en die eerste week van September gedoen. Landbou-ondernemings wat in alle subsektore oor Suid-Afrika heen sake doen, het deelgeneem. Gunstige weervooruitsigte met hoër as verwagte reënval in die meeste streke ondersteun vertroue in die sektor.

Die opname het tien subindekse, waarvan vertroue in almal gedaal het, hoewel een daling, dié van finansieringskoste, eintlik gunstig geïnterpreteer word. Die subindeks vir finansieringskoste het met 2 punte tot 55 teruggesak, wat volgens Sihlobo die huidige laer rentekoerse weerspieël.

Grootste daling

Die grootste daling is aangeteken in die subindeks wat ekonomiese toestande meet. Dit het tot 48 punte gedaal, die enigste punt wat tot onder die neutrale vlak van 50 teruggesak het. Ander skerp dalings sluit in algemene landboutoestande (14 punte laer op 69), voorsiening vir swak skuld (18 punte laer op 68) en kapitaalbeleggings (11 punte laer tot 58 punte).

Die landbousektor word as een van Suid-Afrika se groot werkskeppers beskou, maar omdat die derde kwartaal minder bedrywig as die tweede kwartaal is, het die subindeks vir indiensneming met 7 indekspunte tot 59 gedaal. Die subindekse vir omset en netto bedryfsinkomste het onderskeidelik met 9 en 7 punte tot 82 en 84 teruggesak. Dit is steeds aansienlik hoër as die gemiddelde op lang termyn en dui op hoër plaasinkomste.

Die enigste donker wolkie wat Sihlobo op die horison sien, is die deurlopende logistieke probleme wat binnelandse vervoer en die uitvoer van landbouprodukte kortwiek. “Ons landbousektor is grootliks op uitvoer gerig en dié probleme verdien meer aandag van beleidmakers.”