Chris Burgess, redakteur van Landbouweekblad, het die eerbewys ontvang vir sy leeue-aandeel in Landbouweekblad en Agri SA se grensverskuiwende grondberaad in Augustus. Meer as 500 mense van reg oor Suid-Afrika het dié historiese grondberaad oor twee dae op Bela-Bela bygewoon, waar 65 sprekers voorleggings gemaak en in sewe tale getolk is.

“Die Inspirasie-eerbewys word jaarliks aan ’n organisasie of individu toegeken as waardering vir die uitstekende bydrae wat hulle tot die landboubedryf gelewer het, vir die uitstaande resultate wat hulle daarin behaal het, en vir die manier waarop hulle ander in die bedryf geïnspireer het,” het mnr. Jannie de Villiers, hoofbestuurder van Graan SA, gesê.

In sy aanvaardingstoespraak het Burgess gesê die grondberaad was ’n groot sukses danksy ’n spanpoging deur Landbouweekblad-personeel. Hy het vir Jacolette Kloppers (redakteur spesiale projekte), Amelia Genis (spesialisskrywer), Edmund Beukes (projekbestuurder), Liza Bohlmann (hoof spesiale projekte), Alani Janeke (webredakteur), Nelia Richter (adjunkredakteur) en Theuns Venter (uitgewer) uitgesonder vir hulle waardevolle bydraes voor en tydens die beraad.

Burgess het die eerbewys aan die sprekers by die grondberaad opgedra.

“Hulle is ’n toonbeeld van die Suid-Afrika wat ons kan wees. Hulle is uitsonderlike Suid-Afrikaners, elke een van hulle. Hulle is mense met ’n diep geloof wat hulself nie laat afskrik deur uitdagings nie.”

Burgess het ook die rol van gewone Suid-Afrikaners in die gronddebat uitgelig en gesê die beraad het ’n unieke platform geskep waarop verskillende belanghebbendes in die landbou met mekaar kon skakel.

“As Suid-Afrikaners kon ons nog altyd daarin slaag om met mekaar te praat, en die grondberaad het dít net weer bewys.”

Hy het gesê landboustelsels moet getransformeer word sodat boere mededingend en produktief kan bly.

“Dit is krities belangrik dat herlewingslandbou al hoe meer in boerderypraktyke toegepas moet word, terwyl ons plaaslike ekonomie ook moet verander om veiliger en meer inklusief te word.”

*Klik hier vir al die aanbiedings en toesprake tydens die grondberaad. 

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.