eeufeespartytjie,
Die gaste tydens die geleentheid. Foto: Liza Bohlmann

“Landbouweekblad is reeds 100 jaar deel van die landboubedryf se institusionele kapasiteit wat boere oor jare ingelig gehou het en hulle help om mededingend te wees,” het mnr. Jannie de Villiers, in sy gelukwense namens Graan SA en boere gesê. Hy het gesê die tydskrif het oor dekades heen ’n belangrike rol gespeel om onderlinge verhoudinge binne die landbou te bou en om die boere se gemoedstoestand in moeilike tye gunstig te beïnvloed.

“Vir die volgende 100 jaar moet julle help dat ons die geloof behou, ons verhoudinge onderling bly groei en die regte inligting  aan boere oordra sodat ons institusionele kapasiteit in stand bly.”

Mnr. Francois Strydom, uitvoerende hoof van Senwes en ’n borg, het gesê die tydskrif is in die eerste plek ’n besigheid wat oor 100 jaar in stand gehou is en dit sê iets van die onderneming. Hy sê finansiële sukses is die gevolg van iemand wat weet wat hy wil doen.

“Julle het ’n besonderse plek in die landbou. Julle doen nie net die dinge wat mense laat goed voel nie, maar raak ook onderwerpe aan waaroor mense dalk nie wil praat nie. Ek dink byvoorbeeld aan jul grondberaad by Bela-Bela. Daar was vooraf kritiek, maar julle het die moed gehad om voort te gaan en dit was ’n landmerk waaroor nog baie gepraat sal word.”

Boodskap

Mnr. Nico Groenewald, hoof van Agribesigheid van Standard Bank en nog ’n borg, het gesê Landbouweekblad het oor jare dit moontlik gemaak dat die wêreld kan sien wat doen plaaslike boere, maar ook dat die boere kan sien wat in die wêreld aangaan. Dit is noodsaaklik. Die media, net soos banke, het probleme met nuwe tegnologie, maar Landbouweekblad funksioneer baie goed te midde van die kwessies en nuwe platforms om sy boodskap oor te dra.

Chris Burgess, hoofredakteur van Landbouweekblad, het in sy verwelkoming gesê uit die hele ekonomie is die landbou seker die mededingendste. “Suid-Afrikaners sal in Amerika mielies kan verbou, maar die Amerikaners gaan sukkel om hier in die weste by ons iets te laat groei. Van die 36 landbouprodukte wat Suid-Afrika produseer, is hy ’n netto uitvoerder van 24. Dis amper 70%.

“In 2016 se droogte toe die reën in Januarie kom, het boere die trekkers uit die skure getrek en 700 000 ha in 10 dae beplant – dt is iets soos 1,25 miljoen pitte per minuut wat in die grond ingegaan het. Vandag is Suid-Afrikaanse boere van die vroegste gebruikers van tegnologie in die wêreld.”

Kwessies

Hy sê die grootste kwessies wat wag, is klimaatsverandering en om die platteland weer vooruitstrewend te kry. “Ons dorpies op die platteland raak meer vervalle by die dag, namate mense stad toe trek, die townships groter word, en misdaad en werkloosheid verdiep.

“Hoe bou ons nuwe gemeenskappe wat Landbouweekblad vir die volgende eeu gaan ondersteun? Wat gaan die vetveeveilings, die kerkbasaars en dorpskoue van die toekoms wees? Wat gaan die gemeenskaplike gom wees wat ons platteland bymekaar gaan hou in ’n wêreld wat tot 3 grade warmer gaan wees?”

Adam Tas het tydens die geleentheid ook die lied, Landbouweekblad, wat hy vir ons eeufeesvieringe geskryf het, gesing. Die lied sal binnekort amptelik bekend gestel word. 


Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.