Die Cairns Group Farm Leaders sê in ’n verklaring hulle is diep bekommer oor die VSA$12 miljard wat die Amerikaanse regering gaan gebruik om sy boere te help teen die uitwerking van tariewe wat op Amerikaanse landbouprodukte ingestel is.

Dr. John Purchase, uitvoerende hoof van die landbousakekamer Agbiz, het die verklaring as Suid-Afrikaanse verteenwoordiger onderteken.

Die ander ondertekenaars verteenwoordig landbou- en voedselorganisasies van Australië, Argentinië, Brasilië, Kanada, Chili, Colombia, Nieu-Seeland, die Fillippyne en Uruguay.

Luidens die verklaring sal die nuwe subsidies globale landboumarkte verder verwring en dié landbouprodusente benadeel wat min tot geen regeringsteun ontvang nie.

Die Cairns-groep doen ’n beroep op die Amerikaanse regering om, pleks van die bykomende subsidies, eerder die raad van Amerikaanse landbou-organisasies te volg. Laasgenoemde het gevra dat marktoegang vir Amerikaanse landbouprodukte herstel word en die handelsoorlog, wat die sneller was vir die vergeldende tariewe wat Amerikaanse landbou nou benadeel, beëindig word.

“Dié spiralende handelsoorlog los niks op nie en benadeel boere en verbruikers,” lui die verklaring.

Die Cairns-groep is in 1998 deur die Australian National Farmers’ Federation (NFF) gestig. Dit bestaan uit landbou-organisasies in die Cairns-groep van lande, ’n koalisie van landbou-uitvoerlande. Die groep verteenwoordig boere wat meer as ’n derde van die wêreld se landbou-uitvoer produseer.

Sy visie is om ’n wêreld te skep waar daar in die landbou ’n billike en afdwingbare reëlsgegronde handelstelsel is.

“Ons wil vir ons boere die geleentheid skep om voordeel te trek uit ’n volhoubare landbousektor en tot die maatskaplik-ekonomiese ontwikkeling van ons lande by te dra,” luidens die verklaring.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.