Só sê mnr. Uys van der Westhuijzen, voorsitter van Agri Wes-Kaap se beleidskomitee vir landelike veiligheid, wat vandeesweek verkies is tot voorsitter van Agri SA se afdeling vir landelike veiligheid.

Van der Westhuijzen sê landelike misdaad is nie net die polisie en die landbousektor se probleem nie. “Die land se maatskaplike en ekonomiese situasie speel ’n groot rol in misdaad, en departemente soos onderwys en maatskaplike ontwikkeling moet deel van die oplossing wees. Wanneer ons net op misdaad konsentreer, is ons reaktief. Almal moet proaktief ter wille van veiliger gemeenskappe saamwerk.”

Hy sê mense moet ophou dink dat landelike veiligheid net na veiligheid op plase verwys. “Alle inwoners van die landelike omgewing is blootgestel en ly onder misdaad. Misdaad en investering loop nie hand aan hand nie. Veilige omgewings lok beleggings, daarom is ’n goed gekoördineerde en geïntegreerde benadering tussen almal nodig om die kwessie van landelike veiligheid gesamentlik aan te pak.”

Mnr. Jannie Strydom, uitvoerende hoof van Agri Wes-Kaap, sê Van der Westhuijzen is uiters kundig oor alle aspekte van landelike veiligheid. Die werk wat hy oor baie jare op veiligheidsvlak by Agri Wes-Kaap gedoen het, spreek ook van ’n passie en ’n dryfkrag om landelike gemeenskappe veilig te maak.

Van der Westhuijzen, wat buite Malmesbury in die rigting van Klipheuwel boer, is al jare by die georganiseerde landbou betrokke. Hy het in 1986 by die Malmesbury-landbouvereniging aangesluit, waar hy van 2012 tot 2013 voorsitter was. Met die onluste by De Doorns in 2012 het hy by Agri Wes-Kaap se beleidskomitee vir landelike veiligheid betrokke geraak.

Hy is ’n senior reserwemag-offisier met die rang van luitenant-kolonel en was in 2018 die eerste Suid-Afrikaanse weermagoffisier wat verkies is tot voorsitter van die Internasional CIOR Military Skills Committee, wat by Navo geaffilieer is en wat militêre vaardighede evalueer. Hy was ook van 1998 tot 2008 die bevelvoerder van die kommando in die Weskus-streek en dien sedert 2014 as voorsitter van Agri Wes-Kaap se beleidskomitee vir landelike veiligheid.