Die strategie sou aanvanklik in Februarie bekend gemaak word, maar die bekendstelling is daarna verskeie kere uitgestel.

Agri SA sê hy ondersteun die strategie. As die polisie dit met toegewyding en volharding toepas, behoort dit ’n groot sukses te wees.

“Die dringende toepassing van die strategie deur alle stasiebevelvoerders is noodsaaklik,” sê mnr. Tommie Esterhuyse, voorsitter van Agri SA veiligheidskomitee. “Indien nie, sal dit bloot ’n uitstekende strategie wees wat op die rak sit en stof versamel.”

Luidens ’n verklaring sê die organisasie die hoë misdaadvlakke in landelike gebiede benadeel nie net boere nie, maar ook plaaswerkers en die totale landelike gemeenskap. Dit hou ’n bedreiging in vir stabiliteit in landelike gebiede en die land as geheel, terwyl dit ook voedselsekerheid bedreig. “Die voortdurende aanvalle op boere en plaaswerkers, die hoë vlakke van veediefstal en die vernietiging van plaasinfrastruktuur vereis ’n doeltreffende strategie.”

Volgens Esterhuyse beskou Agri SA die polisie se strategie as die beste voertuig om dié kwessies te help aanpak. “Dit is egter kommerwekkend dat die reserviste-stelsel, wat die ruggraat van die strategie verteenwoordig, ná al die jare nog nie volledig toegepas word nie.”

Reserviste-stelsel

Agri SA vra daarom die polisie om die reserviste-stelsel te bevorder en dit moontlik te maak vir die boerderygemeenskap om deel te neem en ’n rol te speel om hul omgewing te beveilig. “Die polisie moet hom verbind tot die beskikbaarstelling van die nodige hulpbronne vir reserviste en hierdie strategie.

“Die strategie sal georganiseerde misdaad, veediefstal en die diefstal van nie-ysterhoudende metale, asook oorgrensmisdaad aanpak. Die daarstelling van reaksiespanne wat vinnig kan reageer op voorvalle van landelike misdaad of voorvalle van ’n gewelddadige of georganiseerde aard, word ook verwelkom.”

Die organisasie het die versekering gegee dat hy alles in sy vermoë sal doen om met die polisie saam te werk om die boeregemeenskap te help om homself te beveilig.