Dít volg na leiers van Agri SA se veiligheidskomitee en lt.genl. Moeketsi Sempe, afdelingskommissaris vir sigbare polisiëring, sowel as ander leiers van die polisie op 28 Julie in Pretoria vergader het.

Agri SA het sedert Februarie die jaar versoeke aan die polisie gerig om oor landelike veiligheid en die strategie te vergader. Mnr. Tommie Esterhuyse, voorsitter van Agri SA se veiligheidskomitee, sê al die provinsiale kommissarisse het ook die vergadering bygewoon. Die hersiende nasionale landelike veiligheid strategie is, na deeglike oorleg met veiligheidsrolspelers, op 11 Oktober 2019 in Makhado in Limpopo bekend gestel.

Esterhuyse het aan Landbou.com gesê van die kwessies wat onder meer aandag geniet het, is die situasie rondom plaasaanvalle en -moorde, onwettige jag met honde op plase wat gedurende inperking in sekere gebiede skerp toegeneem het, die gebrek aan hulpbronne by plattelandse polisiekantore asook die reservistestelsel binne die raamwerk van die strategie.

Dringend

Luidens ’n verklaring wat deur Agri SA en die polisie uitgereik is, gaan die volgende aspekte dringend aandag geniet:

• ’n Toename in sigbaarheid deur die polisie, boere en rolspelers binne veiligheidstrukture in terme van blou/witlig-patrollies om onder meer plaasaanvalle te beperk;

• Om aggressief te fokus op die werwing van reserviste;

• Om veranderinge aan die reserviste-opleidingsprogram voor te stel sodat meer boere en plaaswerkers deel van die stelsel kan word (dit kan insluit om die opleidingsprogram te verkort);

• Om te verseker dat alle plaaswagte en veiligheidstrukture te alle tye binne die raamwerk van die wet optree;

• Om meer gefokusde pogings aan te wend om die werking van landelike veiligheid komitees op grondvlak aan te moedig, maar ook om toe te sien dat dié komitees op provinsiale en nasionale vlak werk;

• Om ’n langtermynoplossing te vind vir die probleem van onwettige jag met honde.

Luidens die verklaring het die partye aanwesig by die vergadering hulle verbindtenis om saam te werk aangedui, asook om ander rolspelers aan te moedig om die strategie toe te pas.

Agri SA het ook hulle waardering teenoor die polisie uitgespreek vir die werk wat hulle doen onder uiters moeilike omstandighede tydens die inperking. Die polisie het op hul beurt die boerderygemeenskappe bedank vir die groot rol wat hulle vervul om misdaad in landelike gebiede te beveg met hulle eie hulpbronne en dat veiligheidstrukture altyd regstaan om geaktiveer te word tydens ’n noodgeval.