Die installasiekunsprojek getiteld “Die Aarde” bestaan uit twee reusesirkels van koring en kanola, elk met ’n deursnee van 100 meter. 

Een van die kanolasirkels langs die N2 by Boontjieskraal buite Caledon in die Wes-Kaap. Foto: Jacolette Kloppers
Een van die kanolasirkels langs die N2 by Boontjieskraal buite Caledon in die Wes-Kaap. Foto: Jacolette Kloppers

Met dié unieke projek ontgin mnr. Strijdom van der Merwe, ’n bekroonde Suid-Afrikaanse landkunstenaar, die brose wisselwerking tussen mens, natuur en landbou. Hy het die landkunswerk in opdrag van die Universiteit Stellenbosch (US) se fakulteit agriwetenskappe geskep. Dit is deel van die fakulteit se eeufeesvierings vanjaar.

Van der Merwe sê hy is opgewonde om te sien hoe die proses ontvou. “Soos boerdery, werk landkuns met die grond en die elemente. Dis ’n lang proses. Dit hang alles van die natuur af. Ons sal in September die volle prentjie sien wanneer die kanola geel begin blom."

Volgens prof. Danie Brink, dekaan van die fakulteit, dra die landkuns by tot die gesprek oor die rol en bydrae van landbou en die fakulteit tot die samelewing. “Ons wou dit graag met Strijdom se hulp visueel uitbeeld.

“Die fakulteit is sedert die US se beginjare aan die ou Victoria Kollege aan die voorpunt van navorsing en onderrig oor landbou en het ook ten doel om boere se hand met navorsing te sterk.”

Van der Merwe, ’n oud-Matie wat op ’n plaas naby Johannesburg grootgeword het, sê hy sien lankal daarna uit om só ’n kunswerk te skep. “Ek wou nog altyd crop circles tussen koringlande maak. Danksy die fakulteit se hulp word dié droom nou verwesenlik.”

Van der Merwe het ’n oersimbool as inspirasie gebruik. “Die motief vir dié kunswerk – ’n sirkel met ’n kruis in – word beskou as een van die oudste bekende simbole vir die planeet,” verduidelik hy.

Die kunswerk is veral geïnspireer deur die rotskuns by Driekopseiland naby Douglas in die Noord-Kaap. Die perseel spog met duisende rotsgravures waarvan dié sirkelmotief een is. Die bykans 4 000 tekeninge op ’n klipbank in die Rietrivier daar is meestal abstrakte en geometriese petrogliewe (kuns wat in rots gebeitel is) en is net sigbaar wanneer die watervlak nie te hoog is nie.

Wetenskaplikes en kunstenaars probeer al vir dekades om die betekenis van hierdie petrogliewe te ontsyfer, verduidelik Van der Merwe.

“Sommige meen dat mense van ander vastelande die kunstenaars was. Ander reken dit hou verband met die mitiese waterslang of rituele wat verband hou met wanneer meisies puberteit bereik het. Hoe dit ook al sy, hierdie opeluggalery is waarskynlik die mooiste een wat ek nog besigtig het.”

“Ons wend nou hierdie simbool aan in ’n hedendaagse landboukonteks. Hierdie groeisirkels gaan saam met die seisoene verander van groen na geel en bruin. Dit verteenwoordig die siklusse van die natuur en die lewe.”

Die kwarte van die sirkels simboliseer voorts die natuurelemente van vuur, water, lug en grond. “Al hierdie elemente is sentraal vir landbou en dit is ook waarmee ’n landkunstenaar werk. In landbou hou alles ook uiteindelik maar verband met die grond, of jy nou vee het of koring saai.”

Brink sê die kunswerk in die vorm van ’n ikoniese simbool dui die landbou se verbintenis met die aarde aan en landbou se wisselwerking daarmee. “Dit verg fyn beplanning, ’n goeie skeut deursettingsvermoë en heelwat geduld om sáám met die elemente vooruit te boer.”

Die meeste van Van der Merwe se kunswerke vat ’n oomblik in tyd vas, omdat dit deur natuurelemente verweer word en later tot niet gaan. Hy sê hy is altyd onder die indruk van die broosheid van die landskap waarmee hy werk.

“Ek hou daarvan om iets te skep wat weer gaan verdwyn. As landkunstenaar wil ek nie my ego op die landskap afdruk nie. Die natuur is die belangrikste element waarmee ek werk.”

Die landboubesighede Kaap Agri, Overberg Agri en Sentraal-Suid Koöperasie is die fakulteit agriwetenskappe se vennote in die landkunsprojek. Ander medewerkers is mnre. Richard Krige van Boontjieskraal en Philip de Waal van Bossiesvlei, Moorreesburg, wathul eiendom vir die projek beskikbaar gestel het en met die bestuur van die aanplantings gehelp het.

Mnr. Willem Botes, navorsingsleier van die universiteit se Planteteeltlaboratorium (US-PTL) en van sy kollegas in die department Genetika, het gehelp met die presisie-aanplanting van die sirkels. Die departement agronomie en Carin Bruce, verantwoordelik vir bemarking en fondswerwing in die fakulteit, het ook ’n sleutelrol in die projek gespeel.